Nuus 18:00
BULLETIN 13 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile nooi Trump uit om Suid-Afrika te besoek te midde van volksmoord-bewerings
# Kaapstad bereik ‘n rekordhoogtepunt in werksgeleenthede
# En die beroemde Franse akteur Gerard Depardieu kry ‘n opskorte vonnis vir seksuele aanranding
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die hoop uitgespreek dat die Amerikaanse president, Donald Trump, president Cyril Ramaphosa se uitnodiging sal aanvaar om Suid-Afrika te besoek met die doel om bewerings van volksmoord teen wit Afrikaners te weerlê. Die Amerikaanse administrasie het vlugtelingstatus aan 49 Afrikaners toegestaan, met verwysing na rassevervolging. Mashatile het op die Afrika-reisindaba in Durban teenoor joernaliste die land se verbintenis tot eenheid beklemtoon:
# Die DA het die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, beskuldig dat hy instellings verpolitiseer wat vaardigheidsontwikkeling moet bevorder. Dit volg nadat ‘n lys oor die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid se raadsaanstellings uitgelek het, wat ANC-gekoppelde individue insluit, soos die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne Gwede Mantashe se seun, Buyambo Mantashe, en die voormalige premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube, wat as raadsvoorsitters aangestel is. Die DA-lid Karabo Khakhau waarsku openbare instellings moet nie omskep word in spilpunte vir kaderontplooiing nie:
# Kaapstad het ‘n rekordhoogtepunt in werksgeleenthede bereik, met meer as 1,8-miljoen mense wat tans werkend is, ‘n toename van 86-duisend poste binne ‘n jaar. Statistieke SA se Arbeidsmagopname vir Januarie tot Maart dui aan die stad spog ook met die laagste uitgebreide werkloosheidsyfer in Suid-Afrika. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, skryf die sukses aan geteikende beleggings en infrastruktuurplanne toe, wat na verwagting 130-duisend meer werksgeleenthede sal skep. Hy het ook gesê Kaapstad se arbeidsmagdeelnamekoers staan tans op 74,6-persent.
# Die Franse rolprentster Gerard Depardieu is ‘n opgeskorte vonnis van 18-maande opgelê nadat ‘n Paryse hof hom skuldig bevind het aan die seksuele aanranding van twee vroue op ‘n rolprentstel in 2021. Die hof het ook gelas dat Depardieu as ‘n seksoortreder geregistreer moet word, ‘n skouspelagtige val van glorie vir die 76-jarige wat die plaaslike rolprentbedryf ‘n halfeeu lank oorheers het. Depardieu het in meer as 200 rolprente en televisiereekse gespeel. Hy is die bekendste persoon om vasgevang te word in Frankryk se reaksie op die #MeToo-beweging.
# Rugby: Die kaptein van Ierland en Leinster, Caelan Doris, sal moontlik vir ses maande buite aksie wees ná ’n skoueroperasie. Die 27-jarige het die besering opgedoen tydens Leinster se Kampioenebeker-halfeindstrydnederlaag van 37-34 teen Northampton op 3 Mei. Die losvoorspeler is verlede week deur hoofafrigter Andy Farrell uitgelaat uit die Britse en Ierse Leeus se span vir die komende toer na Australië. Doris is voorheen beskou as ’n voorloper vir die kapteinskap, wat uiteindelik toegeken is aan Engeland en Saracens se slot, Maro Itoje.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-367-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-238-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….