Nuus 18:00
BULLETIN 12 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bevestig Afrikaners behou hulle burgerskap ondanks hervestiging in Amerika
# Sun City bied in Junie die belangrike G20 Sjerpa-vergadering aan
# En rugby: ‘n Gewese slot van Engeland word Leicester Tigers se nuwe afrigter
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê 49 Afrikaners wat na Amerika verhuis met vlugtelingstatus, sal nie hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor nie. Die woordvoerder, Chrispin Phiri, het aan Newzroom Afrika gesê Artikel 20 van die Grondwet beskerm burgerskap, maar die gebruik van Suid-Afrikaanse diplomatieke dienste in die buiteland kan vlugtelingstatus beïnvloed. Hy beklemtoon die regering verwerp bewerings van Afrikanervervolging en bestempel dit as polities gemotiveerd:
Minister Ronald Lamola sê intussen die Sun City-oord in Noordwes bied volgende maand ’n belangrike G20-Sjerpa-vergadering aan, waar wêreldverteenwoordigers voorkeure sal verfyn voor die leiersberaad in November. Ander belangrike G20-vergaderings sal ook in Addis Abeba, Ethiopië, en New York in die VSA plaasvind. Volgens Lamola beklemtoon hierdie vergaderings Suid-Afrika se leierskap in die ontwikkeling van wêreldwye staatsbestuur en volhoubare groei.
# Die polisie het die afgelope week sowat 17-duisend verdagtes in hegtenis geneem tydens sy Shanela-operasies. Woordvoerder Athlenda Mathe sê 224 is vasgekeer vir verkragting, insluitend ‘n polisiebeampte en ‘n hoofman in KwaZulu-Natal. Beamptes het beslag gelê op 152 onwettige vuurwapens en nege-duisend-492 mandrax-tablette, en 148 moordverdagtes is in hegtenis geneem. Sy sê die polisie sal voortgaan om toe te slaan op geweldsmisdaad, onwettige vuurwapens en dwelmhandel.
# Die vakbond Nehawu het die regering, en veral die Nasionale Tesourie, gevra om besuinigingsmaatreëls op te hef om verpleegkundiges te bevry van die nagevolge van personeeltekorte. Woordvoerder Lwazi Nkolonzi sê die regering se besuinigingsprogram raak die staat se vermoë om gesondheidsdienste te lewer. Hy sê daar is ongeveer 15-duisend-625 vakante verpleegposte in alle kategorieë in Suid-Afrika:
# Rugby: Die voormalige Engelse en Britse en Ierse Leeus-slot Geoff Parling is die nuwe afrigter van die Engelse klub Leicester Tigers, vir wie hy tussen 2009 en 2015 93 wedstryde gespeel het. Hy neem binnekort oor by die gewese hoofafrigter van die Wallabies en die Pumas, Michael Cheika. Die 41-jarige Parling het tussen 2012 en 2015 29 toetse vir Engeland gespeel, en in 2013 in Australië vir die Leeus. Hy is tans die Wallabies se hulp-afrigter en ook die Leeus se lynstaan-afrigter vir vanjaar se toer in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-907-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-237-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….