Nuus 18:00
BULLETIN 8 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident kritiseer vertragings in die ondersoek na die seksuele misbruik van ‘n sewejarige in Matatiele
# Mbalula sê die ANC in KwaZulu-Natal is versterk om dienslewering te verbeter
# En rugby: Maro Itoje is die Britse en Ierse Leeus se kaptein vir die toer na Australië
# Adjunkpresident Paul Mashatile het kommer uitgespreek oor vertragings in die ondersoek na die seksuele misbruik van ‘n sewejarige meisie, Cwecwe, in Matatiele in die Oos-Kaap. Hy het op mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering bevestig ‘n spesiale polisiespan is toegewys aan die saak, met ongeveer 30 verklarings wat reeds afgeneem is. Mashatile sê die saak is na maande steeds nie opgelos nie en dit vererger die trauma van die kind en haar gesin:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party se leierskapstruktuur in KwaZulu-Natal is versterk en hersaamgestel om sy teenwoordigheid in die provinsie te verbeter. Hy het voor die ANC se provinsiale taakspanvergadering gesê sy kantoor werk saam met plaaslike leiers en belanghebbendes om bestuur en dienslewering te verbeter. Mbalula het die media meegedeel dat sekere bestuurskwessies in toekomstige vergaderings aandag sal kry namate die party sy teenwoordigheid in die provinsie verder versterk:
# Steeds in KwaZulu-Natal: Transnet se Nasionale Haweowerheid het vyf voorkeurbieërs aangewys vir ’n vloeibare grootmaat- en groenbrandstofterminaalprojek van 17-miljard-rand by die South Dunes-gebied van Richardsbaai. KZN Oils, Linsen Nambi, Protank, KNGM Engineering en die Bidvest-Mnambithi-konsortium sal vir die 25-jaar konsessie meeding. Die terminale sal brandstof soos diesel, waterstof en bio-brandstof hanteer, en sodoende Suid-Afrika se energie-oorgang versterk. Die maatskappy sê die projek wat uitbreiding van die hawe behels, verseker wêreldmededingendheid, lok beleggings, en ondersteun ekonomiese groei en werkskepping.
# Suid-Afrika se wyndruiwe-oes vir vanjaar het uitstekende vruggehalte gelewer danksy matige, droë toestande wat geur, struktuur en suurgehalte verbeter het. Die uitvoerende hoof van die bedryfsliggaam SA Wine, Rico Basson, het ‘n opbrengs van 1,24-miljoen-ton aangeteken vanaf meer as 86-duisend hektaar. Basson sê hierdie oes beklemtoon die veerkragtigheid en toewyding van die land se vervaardigers en wynmakers om Suid-Afrikaanse wyn verder op te hef. Hy het ter viering van Pinotage se eeufees beklemtoon hierdie oesjaar versterk Suid-Afrika se wêreldwye wynstatus te midde van stygende vraag na volhoubare gehalte-wyn.
# Rugby: Maro Itoje sal die eerste Engelse kaptein van die Britse en Ierse Leeus wees sedert Martin Johnson in 2001. Dit is vanmiddag in ‘n seremonie in Londen aangekondig tydens die bekendmaking van die toerspan na Australië. Hoofafrigter Andy Farrell het die Suid-Afrikaners Duhan van der Merwe en Pierre Schoeman ingesluit in sy groep van 38 spelers, wat drie toetse teen die Wallabies en ses ander wedstryde sal speel. Itoje sê hy besef wat die rol van hom verg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-452-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….