Nuus 18:00
BULLETIN 8 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane staan die poging teen om haar van die rol te skrap
# Die Staatsdiensvakbond verwelkom die werwing van meer as 300 immigrasie-amptenare
# En rugby, Rassie Erasmus sê dis belangrik om die volgende geslag wêreldkampioene te vind
# Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat ná ‘n ampsklag uit haar pos verwyder is, sê sy sal die Regspraktykraad se hofaansoek teenstaan om haar van die rol van advokate te skrap. Die raad verwys na Mkhwebane se oneerlikheid, onbevoegdheid en vooroordeel in sy aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria. Sy het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika die skuif as polities gemotiveerd en ongegrond beskryf en voer aan sy word herhaaldelik vir dieselfde kwessies gestraf:
# Die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê gister se getuienis voor die Madlanga-kommissie het vrae laat ontstaan oor beweerde bande tussen die SAPD-generaal-majoor, Feroz Khan, en die EFF-leier en ad hoc-komiteelid, Julius Malema. Cameron sê daar was vroeër kommer oor verkrygingsaangeleenthede en invloed oor toesigprosesse, te midde van bewerings dat Khan Malema gebruik het om parlementêre vrae te opper. Hy het ook verwys na Malema se vorige verwerping van Khan se verskyning voor die komitee:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die Departement van Binnelandse Sake se tydige ingryping om immigrasie-afdwinging te versterk en die voortgesette strategie om sy stelsels en prosesse te digitaliseer. Die departement gaan ‘n bykomende 301 immigrasie-amptenare werf. Claude Naicker van die vakbond sê hierdie aanstellings volg te midde van kommer in gemeenskappe oor die teenwoordigheid van ongedokumenteerde buitelanders en die uitwerking daarvan op openbare dienste, werksgeleenthede en gemeenskapsveiligheid:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die NAVO-beraad in Turkye meegedeel verlede maand se tussentydse ooreenkoms met Iran is verby. Hy het Iran se leiers as veragtelik bestempel en sê onderhandelings was tydmors. Dit het onstuimigheid in die olie- en aandelemarkte veroorsaak. Dit volg nadat die Amerikaanse Weermag oornagaanvalle op Iran uitgevoer het. Washington sê dis weens Iranse aanvalle op drie handelsvaartuie in die Seestraat van Hormoes. Iran se Weermag sê hy het teruggeslaan en Amerikaanse basisse in Bahrein en Koeweit met missiele en hommeltuie geteiken.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus is bereid om sommige wedstryde te verloor om sodoende die volgende geslag wêreldkampioene te vind. Die veelsydige Pieter-Steph du Toit, met 96 toetse op sy kerfstok, voer Saterdag ‘n relatief onervare span aan in die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Skotland op Loftus. Erasmus en sy hulpafrigters glo, anders as ander lande, dat hulle meer leer van nuwelinge wanneer hulle hulle buiging maak in hoëdruk-wedstryde as in minder belangrikes. Hulpafrigter Duane Vermeulen beskou nie die tien veranderings aan die opdrafspan as ‘n risiko nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-791-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-53-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….