Nuus 18:00
BULLETIN 29 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vyfde liggaam is uit die Hennopsrivier herwin
# Sluise by die Vaal- and Bloemhofdamme bly oop terwyl watervlakke stabiliseer
# En, die Proteas-vroue struikel teen Indië ten spyte van Tazmin Brits se honderdtal
# Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het bevestig dat ’n vyfde liggaam uit die Hennopsrivier herwin is. Dit volg op die herwinning van drie liggame wat vermoedelik vermiste polisielede van die Vrystaat is wat verlede Woensdag verdwyn het. ‘n Vierde liggaam is vandag gevind. Sy sê die identiteite bly onbekend, en ondersoeke is aan die gang om die oorsaak van dood en moontlike verbintenis tussen die slagoffers te bepaal:
# Die Departement van Water en Sanitasie het bevestig dat tien sluise van die Vaaldam oop bly, met watervloei van een-duisend-700-en-sewentig-kubieke meter per sekonde, terwyl die Bloemhofdam vloei van drie-duisend-600-kubieke meter per sekonde handhaaf. Die Vaaldam is steeds 119-persent vol en Bloemhofdam is op 117-persent. Die departement sê ondanks die afname in invloei, voorsien die takriviere steeds die stelsel van water, terwyl beheerde vrystellings voortduur. Intussen oorstroom die Vanderkloof- en Gariepdamme met albei wat meer as 108-persent vol is.
# Viëtnam gaan meer as agt-duisend gevangenes, insluitend buitelanders, vrylaat voor die 50ste herdenking van die val van Saigon. Die kommunistiese land kondig dikwels spesiale amnestie aan voor belangrike gebeurtenisse. Daar is sedert 2009 byna 100-duisend gevangenes vrygelaat voor hul verwagte vrylatingsdatums, hoewel politieke aktiviste nog nooit ingesluit is nie. Diegene wat skuldig bevind is aan “poging om die kommunistiese regering omver te werp” of “terrorisme” kom nie in aanmerking vir vrylating nie. Die aangehoudenes sal van Donderdag af vrygelaat word en 25 buitelanders van nege verskillende lande insluit.
# Krieket: Indië se vrouespan het die openingswedstryd in die driehoekige reeks teen Suid-Afrika met 15 lopies gewen nadat hulle die loot gewen en besluit het om eerste te kolf. Die Indiërs het 276 vir 6 aangeteken, met Pratika Rawal wat 78 lopies van 91 balle aangeteken het. Die Proteas het uitstekend begin met ’n openingsvennootskap van 140 lopies deur Tazmin Britz en Laura Wolfaardt. Britz het 109 lopies van 107 balle aangeteken, maar die paaltjies het voortdurend om haar geval en Suid-Afrika is in die laaste boulbeurt vir 261 uitgehaal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 21-rand-14-sent teen die euro en 24-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-774-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Omgewingsgesondheidspraktisyns het ‘n toename van 57-persent in geraasklagtes in die afgelope twee jaar aangeteken. Die hoofbronne van geraasklagtes in Kaapstad is plekke van laatnagvermaak, geleenthede met versterkte klank en woongebied sake-/werkswinkelgeraas. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê in die 2023/2024-boekjaar het geraasklagtes van een-duisend-216 tot een-duisend-905 toegeneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….