Nuus 18:00
BULLETIN 24 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 2-beurtkrag ingestel weens druk op die kragstelsel
# Ramaphosa en Trump gaan ontmoet oor die spanning tussen SAuid-Afrika en Amerika
# En tennis: Carlos Alcaraz onttrek aan die Madridse Ope
# Eskom het aangekondig Fase 2-beurtkrag is vanaf 4-uur vanmiddag tot môre-oggend 5-uur ingestel weens ‘n hoër as verwagte elektrisiteitsaanvraag. Woordvoerder Daphne Mokoena sê dit was nodig weens opwekkingseenhede wat buite werking is en uitgebreide beplande instandhouding. Sy sê ondanks vordering in herstelpogings plaas hierdie voortdurende beperkings aansienlike druk op die stelsel. Eskom versoek almal om elektrisiteit spaarsaam te gebruik om spanning op die nasionale netwerk te help verlig.
# President Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het ooreengekom om binnekort te vergader oor die toenemende spanning tussen die twee lande. Dit is aangevuur deur verskille oor die oorlog in Oekraïne, handelsbande en Suid-Afrika se Onteieningswet. Dit het gelei tot besnoeiings in Amerikaanse hulp. Die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, is op ‘n staatsbesoek aan Suid-Afrika en Ramaphosa het bevestig hy en Trump wil die oorlog in die land beëindig. Hy sê albei is daartoe verbind om bande te versterk:
Ramaphosa en Zelensky het ook ooreengekom om samewerking tussen die twee lande te versterk en saam te werk aan sleutelgebiede, insluitend handel, energie en onderwys. Die twee leiers het tydens samesprekings by die Uniegebou in Pretoria maniere bespreek om bilaterale betrekkinge uit te brei en hoe om gesamentlike projekte in sleutelsektore te benader. Ramaphosa het verder onderneem om saam te werk aan vrede, ontwikkeling en vennootskappe:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê die skrapping van die BTW-verhoging is ‘n oorwinning vir gewone Suid-Afrikaners. Hy sê hoewel hy nie deel vorm van die regering van nasionale eenheid nie, het sy party ‘n sleutelrol gespeel met voorstelle vir alternatiewe inkomste-oplossings en die party het ook ter goeder trou met die ANC onderhandel. Hy het bewerings verwerp dat ActionSA die BTW-verhoging steun, en sê die party het sy belofte nagekom om die verhoging te stop:
# Tennis: Die eerste-gekeurde Carlos Alcaraz het aan die Madridse Ope onttrek weens ’n besering wat hy verlede naweek in die eindstryd van die Barcelona Ope opgedoen het. Die Spanjaard sou môre sy eerste wedstryd in sy tuistoernooi speel. Die tweemalige kampioen sê hy en sy span het besluit om nie kanse te vat nie, en hy hoop om binnekort terug te wees. Die heersende Franse Ope-kampioen het sy eerste kleibaan-toernooi van die seisoen, die Monte-Carlo-meesters, gewen voordat hy teen Holger Rune van Denemarke verloor het in Barcelona.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 21-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-897-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….