Nuus 18:00
BULLETIN 23 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit gaan ‘n saak van minagting teen die hof teen Ramaphosa indien oor rassewetgewing
# Die regter weier die verdediging se aansoek om aanklagte te laat vaar in die Joslin Smith-verhoor
# En die owerhede sal nie teen Netbal Suid-Afrika se president optree sonder amptelike aanklagte nie
# Die vakbond Solidariteit gaan regstappe doen teen president Cyril Ramaphosa vir minagting van die hof. Dit volg ná die regering se beweerde versuim om ‘n hof-goedgekeurde ooreenkoms oor rassewetgewing ten volle in te stel. Dirk Hermann van Solidariteit sê sleutelklousules rakende tydelike raswette en vaardigheidsgebaseerde aanstellings is nie by die finale weergawe ingesluit nie:
# Regter Nathan Erasmus het die verdediging se aansoek geweier om aanklagte te laat vaar teen Kelly Smith en Steveno van Rhyn in die Joslin Smith-verhoor. Die verdediging het ‘n gebrek aan geloofwaardige bewyse aangevoer, maar die Hooggeregshof, wat in Saldanhabaai sit, het beslis dat daar wel ‘n saak teen hulle is. Van Rhyn en Jacquen Appollis het verkies om nie te getuig of getuies te roep nie en hul sake is gesluit. Die verhoor oor die verdwyning van Smith se jong dogtertjie duur voort.
# United Action for Transformation neem die Departement van Basiese Onderwys hof toe oor die versuim om die spertye vir die uitroei van puttoilette in skole te haal. Die woordvoerder, Mighty Mabule, sê die regering se gebrek aan optrede stel kinders se gesondheid en waardigheid in gevaar. Hy sê ondanks herhaalde beloftes duur onveilige sanitasie in baie skole voort. Mabule eis onmiddellike optrede en vra veilige en waardige geriewe.
# Netbal: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, die Departement van Sport, en Netbal SA sê hulle sal slegs optree as Netbal SA en Afrika Netbal se president, Cecilia Molokwane, amptelik aangekla word deur Wêreldnetbal. Die internasionale liggaam het haar geskors oor beweerde wanadministrasie. Die adjunkminister van Sport, Peace Mabe, het aan die Parlement gesê dit sal onregverdig wees om Molokwane sonder behoorlike prosesse te skors. Sy sê interne ondersoeke moet enige verdere optrede bepaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-17-sent teen die euro en 24-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-779-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-278-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-40-sent per vat.
# En laastens, die nuwe Ikusasa Student Financial Aid Programme-opname toon 67-persent van gegradueerdes wat befonds is, is in diens geneem of besig met internskappe en 13-persent is werkloos. Die meeste werksgeleenthede is in Gauteng, met 59-persent van gegradueerdes wat in die provinsie werk vergeleke met net sewe-persent in die Wes-Kaap. Die uitvoerende hoof, Werner Abrahams, sê geografie, markversadiging en ‘n wanverhouding tussen kwalifikasies en poste is van die belangrike struikelblokke. Daar is oorheersend kontrakwerk beskikbaar, wat goeie ervaring bied, maar min werksekerheid. Die program beplan om werkbelyning deur werkgewer-vennootskappe te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….