Nuus 18:00
BULLETIN 7 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema ontken wangedrag in ‘n beëdigde verklaring aan die Madlanga-kommissie
# Die DA daag minister Dina Pule uit om Wes-Kaapse vertragings met maatskaplike toelaes en diensleweringsmislukkings aan te pak
# En, die vrou wat van die Monaco-bomaanval verdink word, is dood in Oekraïne aangetref
# Die leier van die EFF, Julius Malema het ‘n beëdigde verklaring aan die Madlanga-kommissie voorgelê waarin hy verklaar die befondsing van sy party deur die tabaksakeman Adriano Mazzotti is in die openbaar verklaar. Malema het bewerings van ‘n geheime verhouding verwerp en gesê sy interaksies en finansiële reëlings met Mazzotti is reeds bekend. Na aanleiding van die beëdigde verklaring wat op rekord is, sê getuienisleier Michael Chaskalson dat Malema ook enige onwettige of korrupte transaksies met die geskorste generaal-majoor van Misdaadintelligensie, Feroz Khan ontken het:
# Die DA sê voortdurende mislukkings deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se dienste raak steeds kwesbare inwoners in die Wes-Kaap. Die party het die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, genooi om ‘n toesigbesoek by te woon om voortdurende diensleweringsprobleme by SASSA-kantore in die provinsie waar te neem. Wendy Kaizer-Philander van die DA sê begunstigdes word steeds onderwerp aan lang toue, stelselonderbrekings, personeeltekorte en vertragings met die verwerking van toelaes:
# Die Stad Kaapstad het hom skuldig gemaak aan wanadministrasie en onbehoorlike gedrag weens die versuim om voldoende basiese dienste aan inwoners van Langa en Khayelitsha te verskaf. Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het op ‘n nuuskonferensie inligting bekend gemaak oor die verslag na beweerde diensleweringsmislukkings deur die stad. Sy het gesê die ondersoek bevestig jare se diensleweringsmislukkings, insluitend swak sanitasie, onvoldoende toegang tot water, onveilige behuising, foutiewe brandveiligheidstoerusting en swak afvalbestuur:
# Die vrou wat daarvan verdink is dat sy ‘n plofstof-aanval in Monaco uitgevoer het, is in Oekraïne dood aangetref. Die aanval was gemik op ‘n Oekraïense multimiljoenêr onder internasionale sanksies. Hy en sy gesin is in die aanval beseer. ‘n Internasionale soektog is kort na die aanval na Anastasiia Berezovska begin, en sy het twee dae ná die aanval op 1 Julie in Oekraïne aangekom. Oekraïne se veiligheidsdiens sê die 39-jarige vrou se liggaam is met skietwonde aan die kop gevind. Twee verdagtes, insluitend ‘n intelligensiebeampte van die Ministerie van Verdediging, is op verdenking van moord in hegtenis geneem. Die beampte het intussen erken dat hy Berezovska vermoor het.
# Tennis: Die All England Club het aan elf spelers boetes van altesaam 739-duisend-rand opgelê na Wimbledon se kwalifiserende rondes en die eerste week van die hooftrekking. Dis vir oortredings soos hoorbare onwelvoeglikheid, misbruik van rakette of swak sportmanskap. Die Fransman Corentin Moutet het die grootste boete van ongeveer 122-duisend-rand gekry nadat hy sy raket gebreek en gevloek het tydens sy eersteronde-nederlaag teen die Amerikaner Marcos Giron. Ander spelers wat beboet is, sluit in die Australiër Thanasi Kokkinakis, Damir Dzumhur van Bosnië en die Belg, Gilles Arnaud Bailly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-13-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-161-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….