Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel verwerp Suid-Afrika se pleidooi vir voorlopige maatreëls in Gaza
# Minister Patel sê Amerika het ingestem om AGOA vir nog 10 jaar te verleng
# En, rugby: Courtnall Skosan en Herschel Jantjies begin vir die Stormers teen die Sale Sharks
# Israel sê Suid-Afrika se pleidooi vir voorlopige maatreëls om Palestyne in Gaza te beskerm, ontbreek regverdiging. Hulle voer aan die militêre operasie is Israel se reg op selfverdediging, wat voldoen aan internasionale humanitêre reg. Die Internasionale Geregshof in Den Haag, in Nederland, sal na verwagting oor ‘n paar weke uitspraak lewer oor hierdie voorlopige maatreëls, wat moontlik ‘n pouse in die oorlog sal veroorsaak. Israel se adjunk-prokureur-generaal, Gilad Noam, waarsku egter voorlopige maatreëls kan sekerheids-pogings belemmer en Hamas versterk, wat ‘n groter bedreiging inhou:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, het bekendgemaak Amerika het ‘n voorlopige ooreenkoms met Afrikalande bereik om die AGOA-ooreenkoms met nog ʼn dekade te verleng. Hy sê dit is onderworpe aan goedkeuring van die Amerikaanse Kongres. Die huidige ooreenkoms, wat meer as 30 Afrikalande in staat stel om goedere belastingvry na die Amerikaanse mark uit te voer, verval in September volgende jaar. Volgens Patel wil hulle ook die vlak van vervaardigde goedere na Amerika verhoog as deel van die herindustrialiseringstrategie.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het 609 nuwe laat aansoeke in die eerste tien dae van Januarie ontvang. Die LUR, David Maynier het deurlopende plasings vir twee-duisend-636 Graad 1- en 8-leerders bevestig, met die proses wat voortgaan namate onderwysers Maandag terugkeer skool toe. Maynier het ouers met hangende aansoeke versoek om spoedig aansoek te doen, met die klem op die departement se strategiese plasingsplan. Hy het bevestig 99,43-persent van leerders in die provinsie is reeds geplaas:
# Rugby: Die Stormers het enkele veranderings aan hulle agterlyn aangebring en net een aan die pak voorspelers vir môre se Kampioenebeker-wedstryd teen die Sale Sharks in Kaapstad. Die vleuel Courtnall Skosan en die skrumskakel Herschel Jantjies is terug in die beginspan terwyl Suleiman Hartzenberg na buitesenter verskuif in die plek van die beseerde Ruhan Nel. Die enigste verandering onder die voorspelers is die haker André-Hugo Venter wat welverdiend in die opdrafspan gekies is na ʼn aantal indrukwekkende vertonings vanaf die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-798-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-55-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-32-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Verslag deur die Internasionale Energie-agentskap toon 50-persent meer hernubare vermoë is verlede jaar wêreldwyd aangebring as in 2022. Altesaam 507 gigawatt hernubare energie-vermoë is in 2023 geïnstalleer, wat die basis tot ongeveer drie-duisend-600 megawatt verhoog het, waarvan fotovoltaïese sonkrag driekwart van die wêreldwye toevoegings beslaan. China het verlede jaar net soveel fotovoltaïese sonkrag in gebruik geneem as wat die hele wêreld die vorige jaar gedoen het. Die agentskap voorspel dat globale hernubare vermoë oor die vyf jaar tot einde 2028 tot sewe-duisend-300 gigawatt sal toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….