Nuus 18:00
BULLETIN 16 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Magashule pleit onskuldig in die asbesverhoor van 255-miljoen-rand
# AfriForum veg om die Krugerwildtuin te beskerm teen ‘n omstrede mynplan
# En sokker: Die verkeerde lied is gespeel voor gister se wedstryd tussen Aston Villa en Paris St-Germain
# Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, het onskuldig gepleit op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery in die asbesdak-verwydering-saak van 255-miljoen-rand. Die tender van 2014 het ten doel gehad om ontslae te raak van die asbes wat in 300-duisend huise was, maar slegs 21-miljoen-rand se werk is glo afgehandel. Magashule en 17 medebeskuldigdes het in die Hooggeregshof in Bloemfontein verskyn. Magashule hou vol die aanklagte is polities gemotiveerd:
# President Cyril Ramaphosa het kommer uitgespreek oor die Oos-Kaap se finansiële bestuur. Dit volg op ’n verslag van die ouditeur-generaal wat 197-miljoen-rand in onreëlmatige besteding aan die lig gebring het. Ramaphosa het in Nelson Mandelabaai aan provinsiale leiers gesê 30 daadwerklike onreëlmatighede is aangeteken, met 13 wat steeds nie opgelos is nie. Hy erken vordering met skoon oudits en verbeterde finansiële verslaggewing, maar beklemtoon dat die wanbestuur van openbare fondse steeds ontwikkeling ondermyn:
# AfriForum sê Tenbosch Mining se plan om ‘n steenkool-aanleg naby die suidelike deel van die Krugerwildtuin in Mpumalanga op te rig, is gebrekkig en bedreig die omgewing. Die organisasie het aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, sowel as SANParke geskryf oor die gebrek aan behoorlike openbare raadpleging en ander sleutelstappe wat oorgeslaan is. Lambert de Klerk van AfriForum eis ‘n volledige ondersoek en waarsku regstappe sal gedoen word indien die plan voortgaan:
# Die Europese Unie het sewe lande uitgewys wat hy as veilig beskou in ‘n poging om migrante se terugkeer te bespoedig deur dit moeiliker te maak vir sekere nasies se burgers om aanspraak te maak op asiel. Die Europese Kommissie het voorgestel dat Kosovo, Bangladesj, Colombië, Egipte, Indië, Marokko en Tunisië tot veilige lande van herkoms verklaar word. Dit is gedoen om EU-regerings toe te laat om burgers van daardie lande se asielaansoeke vinniger te verwerk weens die vermoede dat hulle aansoeke nie meriete het nie.
# Sokker: Die speel van die verkeerde amptelike lied tydens gister se Kampioeneliga-kwarteindstryd tussen Aston Villa en Paris St-Germain is toegeskryf aan ’n probleem met die klankstelsel. Sommige spelers het gesukkel om hul lag te bedwing toe die Europa-liga se kenwysie op Villapark in Birmingham gespeel is voor die wedstryd. Dit is later na die Kampioeneliga se amptelike lied verander. Villa het die tweederonde-kragmeting 3-2 gewen, maar PSG het met ‘n gemiddeld van 5-4 na die halfeindronde deurgedring nadat hulle die eerste wedstryd 3-1 gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 21-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-924-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-311-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….