Nuus 18:00
BULLETIN 10 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi kondig duisend-200 poste vir dokters aan om gesondheidsorgtekorte aan te vul
# Ondersoeke begin oor die hantering van Timothy Omotoso se hofsaak
# En Amerikaanse senatore wil vasstel of Trump betrokke was by binnehandel of markmanipulering
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het een-duisend-200 nuwe doktersposte aangekondig om die tekort aan gesondheidsorg-werkers teen te werk. Hy sê die Nasionale Gesondheidsraad het danksy die nuwe begroting toestemming gegee vir die werwing van die dokters, 200 verpleegkundiges en 250 ander gesondheids-beroepslui teen ‘n koste van twee-miljard-rand:
# Die voorsitter van Kulturele, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, sê verskeie kommissies sal binnekort ondersoek instel na die hantering van die hofsaak teen die Nigeriese televisie-evangelis, Timothy Omotoso. Dit volg nadat hy in die Oos-Kaapse Hooggeregshof vrygespreek is op 32 aanklagte, insluitend van verkragting en mensehandel, nadat die verhoor agt-jaar gesloer het. Mkhwanazi-Xaluva beklemtoom ingewortelde mislukkings in die regstelsel en noem die uitspraak ‘n verwoestende slag, met verwysing na foute met sy vervolging. Sy sê die uitslag ondermyn geregtigheid en openbare vertroue:
# Verskeie Amerikaanse senatore vra ‘n ondersoek om vas te stel of president Donald Trump betrokke was by binnehandel of markmanipulering deur mense aan te moedig om aandele te koop kort voor sy dramatiese ommekeer oor globale tariewe. Die aantygings het gevolg nadat Trump ‘n paar minute na Wallstraat se opening die boodskap geplaas het: DIS TYD OM TE KOOP. ‘n Paar uur later het hy aangekondig bykomende tariewe teen talle lande word vir 90-dae opgeskort, met die uitsondering van China. Dit het ‘n geskiedkundige regstelling in die mark veroorsaak.
Amerika en Rusland het intussen vandag gevangenes uitgeruil in die tweede uitruiltransaksie sedert Trump na die Withuis teruggekeer het en die twee supermoondhede nouer bande najaag. Moskou het die Amerikaans-Russiese balletdanseres en spa-werker, Ksenia Karelina, vrygelaat wat in Rusland ‘n vonnis van 12-jaar uitgedien het op aanklag van hoogverraad. Amerika het op sy beurt vir Arthur Petrov vrygelaat. Die Russies-Duitse burger kon ‘n vonnis van tot 20-jaar in ‘n Amerikaanse tronk opgelê word vir oortredings van uitvoerbeheermaatreëls.
# Atletiek: Die Australiese naelloop-wonderkind Gout Gout het vandag twee keer die 100 meter in vinniger as 10-sekondes afgeblits. Albei kere was dit windondersteun en die tye word nie amptelik erken nie. Gout het in Desember die oog gevang toe hy die vinnigste 200-meter tyd ooit deur ‘n 16-jarige behaal het, naamlik 20.04 sekondes. Dit het Usain Bolt se persoonlike beste op dieselfde ouderdom verbeter. Nou, op die ouderdom van 17, het hy sy 100-meter uitdun op die Australiese Atletiekkampioenskappe in Perth in 9.99 voltooi en daarna dieselfde tyd in die eindronde aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-43-sent teen die dollar, 21-rand-65-sent teen die euro en 25-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-197-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-146-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….