Nuus 18:00
BULLETIN 9 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA en die ANC vergader om die begrotingskrisis aan te pak
# Solidariteit versoek regslui om aan te sluit by sy stryd teen swartbemagtigings-kodes
# En rugby: ‘n Gebrek aan toesig oor 2023 se Wêreldbekertoernooi het die Franse federasie miljoene-rand se verlies laat ly
# ActionSA sê hy het ‘n opbouende vergadering met ‘n afvaardiging van die ANC se nasionale werkskomitee gehad om die nasionale begrotingskrisis te bespreek. Die twee partye het alternatiewe bespreek om ‘n BTW-verhoging te vermy, met albei wat belowe het om landsburgers te beskerm teen enige styging voor volgende maand. Matthew George van ActionSA het die party se toewyding herhaal om die begrotingskrisis op te los sonder dat ‘n interne magstryd binne die regering van nasionale eenheid die publiek benadeel:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê Suid-Afrika benodig sterker verkiesingsverantwoordbaarheid en bestendigheid. Hy het op die Verkiesingshervormings-raadplegingspaneel se vergadering die behoefte aan hervormings buite die huidige koalisiekultuur beklemtoon. Schreiber het uitgelig dat veelparty-regering nou die norm is en vra wetgewende strukturele veranderings om langtermynbestuur en demokratiese veerkragtigheid in die land te ondersteun:
# Solidariteit se Regsnetwerk het ‘n hofaansoek ingedien teen nuwe swart ekonomiese bemagtigings-sektorkodes in die regsberoep. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die kodes in September onderteken. Solidariteit voer aan die kodes is onwettig en ongrondwetlik en oorreguleer die regsektor. Riaan Visser van Solidariteit meen die voorgeskrewe raskwotas vir regsfirmas beperk vryheid van keuse, beïnvloed eienaarskap en het ‘n onregverdige uitwerking op bestuurstrukture:
# China het teruggeslaan met ‘n tarief van 84-persent op Amerikaanse invoere nadat Donald Trump se tarief van 104-persent op China in werking getree het. Dit het ‘n verdere daling in die Europese markte veroorsaak. Die FTSE 100-indeks van die grootste maatskappye wat in Brittanje genoteer is, het tot dusver vandag met 3,3-persent gedaal, terwyl die Duitse DAX sowel as die Franse CAC 40 vier-persent laer is. Die prys van Brent-ruolie het intussen in ‘n stadium tot onder 60-dollar per vat gedaal, die laagste sedert Februarie 2021.
# Rugby: ‘n Franse finansiële waghond sê groot mislukkings in die regering se toesig oor 2023 se Wêreldbekertoernooi het tot groot verliese gelei wat die beheerliggaam met finansiële probleme gelaat het. Die Franse Hof van Rekeninge sê die Franse Rugbyfederasie en die regering moet tot ‘n mate die verantwoordelikheid dra vir die gebrek aan toesig oor die organiseerders. Hy sê terwyl die toernooi, wat die Springbokke gewen het, ‘n onbetwisbare sukses by die publiek, die media en ten opsigte van sport was, het dit finansiële verliese van tot 630-miljoen-rand veroorsaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-79-sent teen die dollar, 21-rand-86-sent teen die euro en 25-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-321-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-83-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….