Nuus 18:00
BULLETIN 8 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA-leier vra leierskap in politieke chaos weens begrotingskrisis
# Twee Chinese soldate word gevange geneem tydens gevegte in die ooste van die Oekraïne
# En Charles en Camilla vier hulle 20ste huweliksherdenking in Rome
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, vra sterk leierskap om die begrotingskrisis aan te pak, en dring aan die fokus moet op oplossings rondom die politieke chaos wees. Maimane sê die land se fiskale probleme gaan nie net oor die voorgestelde BTW-verhoging nie, maar spruit uit ‘n regering wat nie daartoe in staat is om belangrike ekonomiese kwessies aan te pak nie. Hy het ‘n stel praktiese voorstelle voorgelê, insluitend 180-miljard-rand in besparings en hervormings aan ondernemings in staatsbesit, wat daarop gemik is om die BTW-verhoging te voorkom:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep gedoen vir die beëindiging van korrupsie binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die gemeenskap. Hy het tydens die polisieberaad klem gelê op aanspreeklikheid, etiese gedrag en integriteit. Ramaphosa vra ‘n meer professionele polisiediens, die verbetering van werwing en opleiding om ingewortelde tekortkominge teen te werk en openbare vertroue op te bou. Hy het die regering se verbintenis beklemtoon om veiliger gemeenskappe en doeltreffender wetstoepassing te verseker:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, sê twee Chinese soldate is gevange geneem waar hulle saam met Russiese soldate in die ooste van Oekraïne geveg het. Hy sê hy het amptenare beveel om ‘n verduideliking van Beijing te eis. China is ‘n bondgenoot van Rusland en word beskuldig dat hy help in die oorlog teen Oekraïne. Beijing ontken egter herhaaldelik aantygings dat hy die Kremlin-magte van wapens voorsien. Zelensky meen China het my Rusland aangesluit in sy oorlog teen Oekraïne en sê hy verwag reaksie van Amerika.
# Tennis: Die wêreld-nommer-nege, Andrey Rublev van Rusland, hoop op ‘n lang afrigtingsvennootskap met sy landgenoot, Marat Safin, wat hy as sy held beskryf. Die 45-jarige voormalige wêreld-nommer-een het twee Grand Slamtitels ingepalm – die Amerikaanse Ope in 2000 en die Australiese Ope vyf jaar later. Hy was in 2016 die eerste Russiese speler om in die sport se Internasionale Heldesaal ingehuldig te word. Albei spelers is geneig tot uitbarstings op die baan, en Rublev sê hy hoop Safin se ervaring met die hantering van sy probleme sal hom help.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-50-sent teen die dollar, 21-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-992-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-11-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte, koning Charles het vandag saam met die president van Italië, Sergio Mattarella, ‘n kleurvolle verbyvlug dopgehou en ‘n krans vir gevalle soldate gelê. Vandag is die eerste volle dag van sy staatsbesoek saam met koningin Camilla, enkele dae ná sy jongste gesondheidskok. Die reis van vier dae volg minder as twee weke nadat die 76-jarige koning vlugtig in die hospitaal opgeneem is nadat hy newe-effekte van sy kankerbehandeling ervaar het. Die koninklikes, wat hul 20ste huweliksherdenking in Rome sal vier, het vir mense gewaai en geglimlag toe hulle deur die hoofstad gery het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….