Nuus 18:00
BULLETIN 4 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Parks Tau waarsku teen tariewe uit weerwraak sonder duidelikheid van die VSA
# GOOD-party kritiseer regering omdat hy sperdatum vir die uitwissing van puttoilette misloop
# En, Trump wil direkte samesprekings met Iran oor kernprogram voer
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê tariewe uit weerwraak teen die VSA sonder om ‘n volle begrip te hê van hoe hy tot sy besluit gekom het om ‘n 31-persent-tarief op Suid-Afrika in te stel, sal ondeurdag wees. Tau en die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, het ‘n gesamentlike nuuskonferensie gehou oor die regering se strategiese benadering tot die nuwe Amerikaanse tariewe. Tau sê onlangse Amerikaanse handelsbeleide het die multilaterale stelsel beïnvloed:
# Die GOOD-party sê die regering het versuim om die sperdatum vir die uitwissing van puttoilette in skole te haal. Volgens die party het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, soos haar voorganger, Angie Motshekga, ook nie die belofte nagekom nie, met vier-persent van skole wat steeds moet staatmaak op onveilige toilette. Kaden Arguil van die party waarsku sonder ‘n bygewerkte oudit bly die ware omvang van die probleem onbekend:
# Amerikaanse president, Donald Trump sê hy wil “direkte samesprekings” met Tehran voer oor die kernoorenkoms, nadat hy gedreig het om Iran te bombardeer as hy kernwapens ontwikkel. Trump het Iran se leiers ‘n twee-maande sperdatum gegee om ‘n ooreenkoms te bereik oor die land se kernprogram, wat al dekades lank die verhoudings met Westerse nasies gespanne hou. Westerse lande, insluitend die Verenigde State, het Iran al lank daarvan beskuldig dat hy ‘n kernwapen nastreef, iets wat Teheran ontken. Teheran dring daarop aan dat sy verrykingsaktiwiteite slegs vir vreedsame doeleindes is.
# Rugby: Dit word ook nie makliker vir die Blitsbokke nie. Nadat hulle slegs in die negende plek in Hongkong geëindig het, speel hulle môreoggend in Singapoer, in die laaste toernooi van die gewone seisoen, teen sterk opposisie in Groep A. Die Suid-Afrikaners speel 7:26 teen Brittanje en dan draf hulle 10:44 op die veld teen die reeks-voorlopers, Argentinië. Die Argentyne het laas naweek, vir die eerste keer die Honkong-toernooi gewen. Die Blitsbokke is tans vierde op die punteleer, met die top agt spanne wat kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap volgende maand in Los Angeles.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-94-sent teen die euro en 24-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-779-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-50-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-86-sent per vat.
# En laastens, die Europese Unie sê die Natuurherstelregulasie is die eerste omvattende wet van sy soort wat oor vastelande geld. Dit wil ekostelsels, natuurlike omgewings en spesies in die EU se land- en seegebiede herstel. Hierdie maatreëls behoort teen 2030 minstens 20-persent van die EU se land- en seegebiede te dek en sal teen 2050 alle ekostelsels herstel. Meer as 80-persent van Europa se natuurlike omgewings is in ‘n swak toestand. Die EU sê hy is daartoe verbind om sy doelwitte vir klimaatsversagting en -aanpassing te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….