Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Madonsela vra vir die beskerming van konvensieregte te midde van Israel se verontagsaming
# Minister Lamola verklaar die regering se deurlopende voorspraak vir ‘n wapenstilstand en blywende vrede in Palestina
# En, rugby: Andy Farrell aangewys as die nuwe hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus
# Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, Vusimuzi Madonsela, sê Israel se optrede teenoor die Palestyne vorm deel van ‘n reeks onafgebroke onwettige optredes sedert 1948. Hy het die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland toegespreek, as deel van Suid-Afrika se saak van volksmoord teen Israel, wat môre sy mondelinge voorlegging sal doen. Madonsela wys op die rol van die hof om die integriteit van die Volksmoordkonvensie te beskerm en maak voorspraak vir optrede teen Israel se beweerde minagting van internasionale wette:
Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, bevestig intussen die regering se verbintenis om langdurige vrede in Palestina te bewerkstellig. Hy het ‘n nuuskonferensie gehou buite die Internasionale Geregshof in Den Haag, waar Suid-Afrika se saak van volksmoord teen Israel vandag aangehoor is. Lamola neem kennis van president Cyril Ramaphosa se herhaalde oproepe vir ‘n wapenstilstand en humanitêre hulp in Gaza. Hy het ook die regspan bedank en die hoop uitgespreek dat geregtigheid sal seëvier in die hof se beraadslagings:
# Die Portugese multinasionale energiekorporasie, Galp Energia, het die eerste verkenningsput vir olie, Mopane-1X, aan die kus van Namibië suksesvol geboor en aangeteken. Aanvanklike bevindings bevestig ‘n aansienlike hoeveelheid hoë gehalte ligte olie in reservoir-draende sand. NamCor se woordvoerder, Paulo Coelho, het bevestig planne vorder om dieper teikens te verken, met planne om die tuig na Mopane-2X te verskuif vir verdere assessering. Coelho sê Galp gaan data ontleed wat ingewin is en ‘n boorpyptoets uitvoer om die kommersiële lewensvatbaarheid van die ontdekking te bepaal:
# Rugby: Ierland se afrigter, Andy Farrell, is aangewys as die hoofbreier van die Britse en Ierse Leeus vir volgende jaar se toer na Australië. Die Engelsman, die pa van die Engelse kaptein, Owen Farrell, volg die Nieu-Seelander Warren Gatland op wat na die Leeu-toer in Suid-Afrika in 2021 uitgetree het. Farrell was Gatland se hulpafrigter tydens die Leeu-toer in 2013 en weer vier jaar later. Sy rol by die span begin in Desember vanjaar. Farrell sal die Leeus vir 10 wedstryde voorberei, insluitend ʼn toets teen Argentinië in Dublin en drie toetse teen die Wallabies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-630-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-43-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Suid-Afrika se wêreldberoemde Rosenkowitz-sesling vier vandag hulle 50ste verjaarsdag. Die drie seuns – David, Grant en Jason – en hulle drie susters – Emma, Nicolette en Elizabeth – het op hierdie dag in 1974 die eerste sesling ter wêreld geword wat lewend gebore is. Die geboorte in die Mowbray-hospitaal in Kaapstad het wêreldwyd ʼn opskudding veroorsaak. Die sestal se ouers, Colin en Susan, is in 1989 geskei. Die sesling woon nou in verskillende wêrelddele en Grant het sy broers en susters op Facebook gelukgewens.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….