Nuus 18:00
BULLETIN 2 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê ActionSA en die IVP het verraad gepleeg deur die BTW-verhoging te ondersteun
# Die Nasionale Vervolgingsgesag hersien die uitspraak in die Omotoso-saak
# En massa-optrede word beplan na die beweerde seksuele misbruik van ‘n skoolmeisie van Limpopo
# Die DA sê ActionSA en die IVP het Suid-Afrikaners verraai deur die ANC se begroting te ondersteun, wat ‘n BTW-verhoging insluit,. Die party voer aan dat hulle ‘n gebrekkige verslag met swak aanbevelings ondersteun het wat waarskynlik geïgnoreer sal word, in plaas daarvan om die fiskale raamwerk te wysig. Mark Burke van die DA het tydens die parlementêre debat oor die begroting gewaarsku dat die BTW-verhoging werksgeleenthede en ekonomiese groei sal benadeel:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag erken die Hooggeregshof in Gqeberha se uitspraak wat die Nigeriese televisie-evangelis, Timothy Omotoso, en sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, vryspreek op 32 aanklagte, insluitend verkragting, seksuele aanranding en mensehandel. Regter Irma Schoeman het vervolgingsfoute en onvoldoende kruisondervraging aangehaal in die saak, wat agt-jaar gesloer het. Die vertragings het gelei tot verminderde aanklagte en getuies wat onttrek het. Die NVG se woordvoerder, Luxolo Tyali, sê die uitspraak sal hersien word om die volgende regstappe te bepaal:
# Die United Africans Transformation vra ‘n optog in Makotopong, Limpopo, Dinsdag nadat ‘n onderwyser van die Mananga Primary School na bewering ‘n 13-jarige leerder seksueel misbruik het. Die beskuldigde, wat na bewering die slagoffer sedert November mishandel en gedreig het om haar te vermoor, het vandag in die Landdroshof in Mankweng verskyn. Sy saak is tot 11 April uitgestel vir verdere ondersoek en ‘n borgtogaansoek. Mighty Mabule van die party beloof om die slagoffer se gesin te ondersteun en eis geregtigheid:
# Rugby: ‘n Nekbesering kan dalk die stut Ofa Tu’ungafasi uit die All Blacks se toetsreeks teen Frankryk hou. Hy sal ‘n operasie ondergaan en sal nie die res van die Super Rugby-seisoen vir die Blues beskikbaar wees nie. Die sukkelende verdedigende kampioen is tans tweede-laaste op die punteleer met slegs een oorwinning uit ses wedstryde. Die All Blacks speel op vyf Julie teen Frankryk in Dunedin, met die tweede toets in Wellington ‘n week later. Die laaste toets vind op 19 Julie in Hamilton plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-588-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-124-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-31-sent per vat.
# En laastens, prins Harry het sy Travalyst-veldtog geloof vir die bevordering van volhoubare toerisme, ondanks die voortgesette omstredenheid rondom sy liefdadigheidsorganisasie in Lesotho. Sentebale se voorsitter, Sophie Chandauka, het Harry van teistering en afknouery beskuldig nadat hy en ander trustees bedank het. Hulle ontken dit. Harry het intussen Travalyst se mylpaalverslag van vyf-jaar vrygestel, wat optrede teen klimaatsverandering en verantwoordelike reise aanmoedig. Travalyst mik daarna om koolstofvrystellings te verminder, oormatige toerisme te voorkom, en plaaslike ekonomieë te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….