Nuus 18:00
BULLETIN 1 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beskuldigde in die moord op patrolleerders van Soshanguve laat vaar sy borgtog-aansoek
# Die minister van Openbare Werke verbind hom tot versnelling van infrastruktuurlewering
# En sokker: Erling Haaland gaan sewe weke buite aksie wees met ‘n enkelbesering
# ‘n Zimbabwiese burger wat beskuldig word van die moord op ses patrolleerders van Soshanguve het sy borgtogaansoek laat vaar in die Landdroshof in Pretoria-Noord. Die 27-jarige staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend moord, poging tot moord en roof. Die owerhede beweer hy was deel van ‘n groep wat die patrolleerders aangeval het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die man bly in aanhouding:
# Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur gaan dienslewering versnel om Suid-Afrika in ‘n bouterrein te omskep. Minister Dean Macpherson het tydens die Openbare Werke- en Infrastruktuurberaad in Sandton, Johannesburg, beklemtoon dat dade belangriker is as woorde. Hy het ook verwys na die uitdagings as gevolg van vorige vertragings en ondoeltreffende openbare infrastruktuurprojekte. Die minister het ‘n beroep gedoen vir vernuwende benaderings en vars idees om korrupsie, verkrygingskwessies en projekvertragings aan te pak, ten einde gehalte-infrastruktuur vir gemeenskappe te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het ‘n regsgeding teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering aanhangig gemaak, na aanleiding van kommer oor die uitvoerbaarheid en uitwerking daarvan op dokters, pasiënte en die gesondheidsorgstelsel. Die vereniging voer aan die wet skep burokratiese hindernisse wat toegang tot sorg beperk sonder duidelikheid oor noodsaaklike dienste, verkryging en pasiëntregistrasie. Die voorsitter van die vereniging, Mvuyisi Mzukwa, waarsku privaat dokters se werkslading sal onrealisties toeneem maar hulle sal minder verdien:
# Sokker: Manchester City se ster-doelskieter, Erling Haaland, kan vir tot sewe weke buite aksie wees nadat hy ‘n enkelbesering opgedoen het. Die Noorweër het die veld verlaat gedurende Sondag se oorwinning oor Bournemouth in die kwarteindronde van die FA-beker. Hoofafrigter Pep Guardiola sê hulle hoop Haaland kan fiks wees teen die einde van die seisoen en betyds vir die Klub-Wêreldbekertoernooi. City is tans vyfde in die Premierliga en kan nog ‘n plek bekom in die Kampioeneliga.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-715-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-127-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-68-sent per vat.
# En laastens, die bekroonde regisseur Sam Mendes maak vier flieks oor die Beatles wat na verwagting in April 2028 in teaters sal wees. Dit fokus op elke lid van die groep en die akteurs wat te sien sal wees, is Paul Mescal as Paul McCartney, Harris Dickinson as John Lennon, Joseph Quinn as George Harrison en Barry Keoghan as Ringo Starr. Mendes, wie se vorige treffers American Beauty en Skyfall insluit, sê die flieks bied geleentheid om die beste musiekverkopers van alle tye ‘n bietjie beter te verstaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….