Nuus 18:00
BULLETIN 24 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola ontmoet oud-ambassadeur Rasool na sy terugkeer uit Amerika
# Die Departement van Water en Sanitasie monitor die stygende watervlakke van die Vaal- en die Bloemhof-dam
# En, Angola onttrek as bemiddelaar in die DRK om te fokus op die AU se presidentskap
# Die Ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het bevestig dat minister Ronald Lamola ‘n vergadering gehad het met die voormalige ambassadeur Ebrahim Rasool ná sy terugkeer uit die VSA. ‘n Formele verslag oor hul besprekings sal aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word vir oorweging. Rasool is uit die VSA verban tydens ‘n struweling tussen hom en die Donald Trump-administrasie. Volgens die ministerie sal geen verdere openbare gesprekke oor die saak plaasvind voordat die verslag bestudeer is nie.
# Die Departement van Water en Sanitasie hou die stygende watervlakke van die Vaal- en die Bloemhofdam fyn dop. Ses kleppe is by die Vaaldam oopgemaak om die water wat uitvloei met 200 kubieke meter per sekonde te verhoog, met die vlak tans op 107-persent. Die watervlak van die Bloemhofdam is tans 100-persent. Wisane Mavasa van die departement sê hulle gaan voort om die situasie te monitor om enige potensiële gevare weens die stygende watervlakke te voorkom:
# Angola het die onttrekking van sy rol as bemiddelaar in die konflik in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo aangekondig om op sy presidentskap van die Afrika-unie te fokus. Die AU het in 2022 die Angolese president, Joao Lourenco, as bemiddelaar aangewys in ‘n poging om die uitgerekte konflik te besleg waarby die Rwandees-gesteunde gewapende groep, M23, betrokke is. Angola het onttrek om omvattend te kan fokus op die AU se voorkeure. Dié Suider-Afrikaanse land het twee maande gelede die roterende presidentskap van die AU oorgeneem.
# Sokker: Nieu-Seeland sal volgende jaar die eerste keer in 16 jaar aan die Wêreldbekertoernooi deelneem nadat hy Nieu-Kaledonië 3-nul verslaan het in hulle kwalifiseringswedstryd in Auckland. Die veterane Michael Boxall en Kosta Barbarouses en die plaasvervanger Elijah Just het doele aangeteken op Edenpark om die All Whites na hulle derde Wêreldbekertoernooi te stuur, wat in Noord-Amerika plaasvind. Nieu-Seeland het aan 1982 se toernooi in Spanje deelgeneem en 2010 s’n in Suid-Afrika, maar die volgende drie misgeloop. Hulle het hierdie keer Oseanië se kwalifiseringsgroep oorheers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-582-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-22-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-16-sent per vat.
# En laastens, adjunkpresident Paul Mashatile versoek Suid-Afrikaners om saam te staan in die stryd teen tuberkulose. Hy het op die herdenking van Wêreld-TB-dag in Gamalakhe, KwaZulu-Natal, die hoë TB-syfers in die land uitgelig, met 270-duisend gevalle en 56-duisend sterftes in 2023. Mashatile het vandag die Beëindig TB-veldtog van stapel gestuur, wat ten doel het om teen volgende jaar vyf-miljoen mense te toets. Hy vra ook beter integrasie van MIV- en TB-dienste, om gratis behandeling in gesondheidsinstellings te verseker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….