Nuus 18:00
BULLETIN 20 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Reserwebank hou die terugkoopkoers onveranderd op 7,5-persent
# Minister Creecy kondig ‘n vermindering in padongelukke aan vir die eerste deel van die jaar
# En krieket: Die Proteas speel eers weer in Oktober volgende jaar ‘n toets in Suid-Afrika
# Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers onveranderd te hou op 7,5-persent. Dit beteken handelsbanke se prima-uitleenkoers bly 11-persent. Die president van die bank, Lesetja Kganyago, het op ‘n nuuskonferensie gesê die besluit volg weens ekonomiese onsekerheid en inflasierisiko’s. Hy sê hoewel inflasie binne die teiken bly, hou internasionale en plaaslike uitdagings steeds bestendigheidsrisiko’s in:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het ‘n vermindering in padongelukke vir die eerste twee maande van die jaar aangekondig. Daar was ‘n vermindering van tien-persent in Januarie en 25-persent in Februarie in vergelyking met verlede jaar. Meer as drie-duisend mense is aangekeer vir dronkbestuur, 12-duisend onwettige voertuie is geskut, en 21-duisend-282 spoedoortredings is aangeteken. Die hoogste aantal voetgangersterftes was in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Creecy het met die bekendstelling van die Paasnaweek-padveiligheidsveldtog gesê bestuurder- en voetgangergedrag is verantwoordelik vir 87-persent van padongelukke en -sterftes.
Die Wes-Kaapse regering moedig motoriste intussen aan om bewus te wees van hulle spoed, verantwoordelik te bestuur en veiligheid voorop te stel dié langnaweek. Wetstoepassers het van 10 tot 16 Maart 200 spoedboetes uitgereik in die provinsie, met die hoogste spoed wat aangeteken is 160-kilometer per uur in ‘n 120-kilometer sone. Die LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê spoed veroorsaak nie net meer ongelukke nie, maar verlaag ook reaksietye, wat dit moeiliker maak om gevare te vermy:
# Die Streekhof in Bloemfontein het ‘n plaasaanvaller swaar gestraf. Thabang Jantjies het ‘n vrou op haar plaas in Verkeerdevlei oorval, vasgebind en aangerand voor hy op die vlug geslaan het met haar waardevolle besittings. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder in die Vrystaat, Mojalefa Senokoatsane, het bevestig Jantjies is 11 dae later in Marquard in hegtenis geneem. Hy sê daar is vorige skuldigbevindings en parooloortredings teen hom:
# Krieket Suid-Afrika het aangekondig dat die Proteas geen toetse in die land gaan speel oor die feestyd nie. Hulle het ‘n taai witbal-skedule met die SA20 wat die vernaamste aantrekking gaan wees aangesien die vierde seisoen vervroeg is en op 26 Desember begin. Die Proteas speel vanaf 27 Janurie ‘n reeks van vyf T20’s teen die Windies voor die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Hulle volgende toets in Suid-Afrika is eers in Oktober volgende jaar teen Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-144-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-32-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….