Nuus 18:00
BULLETIN 19 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Notinmyname International vra uitgebreide ondersoek na bedrog by SASSA
# Die Amerikaanse prokureur-generaal vergelyk aanvalle op Tesla-eiendom met binnelandse terrorisme
# En ‘n omstrede Olimpiese bokskampioen sê Trump sal haar nie intimideer nie
# Notinmyname International meen die onlangse inhegtenisnemings van SASSA-amptenare wat moontlik betrokke is by ‘n bedrogskema van 250-mijoen-rand moet verder gevoer word. Die organisasie vra die owerhede om hooggeplaaste amptenare te ondersoek wat dalk die bedrog moontlik gemaak het. Hulle beklemtoon die noodsaaklikheid van deursigtige geregtigheid om die publiek se vertroue te herstel, kwesbare gemeenskappe te beskerm en verdere korrupsie te voorkom. Die groep se sekretaris-generaal, Themba Masango, beklemtoon ingrypende verandering vereis kollektiewe optrede en volgehoue waaksaamheid:
# ActionSA het die minister van Samewerkende Regering, Velenkosini Hlabisa, gevra om onafhanklike dissiplinêre rade te stig om munisipaliteite aanspreeklik te hou. Dit volg nadat die Ouditeur-Generaal onthul het tien munisipaliteite het versuim om finansiële state in te dien, wat ‘n oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur is. Alan Beesley van ActionSA kritiseer nasionale en provinsiale owerhede omdat daar nie opgetree word nie en toegelaat word dat wanbestuur voortgaan. Hy dring aan op strenger toepassing om verdere korrupsie te voorkom:
# Die Amerikaanse prokureur-generaal, Pam Bondi, sê ‘n onlangse vlaag aanvalle op Tesla-eiendom wat behoort aan president Donald Trump se bondgenoot, Elon Musk, is soortgelyk aan binnelandse terrorisme. Sy het beloof oortreders sal swaar gestraf word. Bondi sê die Departement van Justisie het reeds van die oortreders aangekla, onder andere vir sake met ‘n verpligte vonnis van vyf-jaar. Bondi se verklaring volg ná die jongste voorval waarin vyf voertuie beskadig is in ‘n brand wat by ‘n Tesla-sentrum in Las Vegas gestig is.
# Boks: Die Algerynse Olimpiese kampioen, Imane Khelif, wat op die Spele in Parys in ‘n geslagsgeskil betrokke was, mik na ‘n tweede goue medalje in Los Angeles en sê sy sal haar nie deur Trump laat intimideer nie. Hy het verlede maand ‘n uitvoerende bevel onderteken wat transgender-sportvroue verbied om in vroulike sportkategorieë mee te ding. Olimpiese hoofde het vroeër hierdie week aanbeveel dat boks ingesluit word by 2028 se Spele in Los Angeles ná die voorlopige erkenning van ‘n nuwe beheerliggaam.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-141-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-28-sent per vat.
# En laastens, die naaswenner van Mej Suid-Afrika 2024, Nompumelelo Maduna, gaan haar Impumelelo Mentorskap-veldtog bekendstel, wat daarop gemik is om jongmense deur mentorskap te inspireer. Die veldtog sluit die Impumelelo Mentorskap-potgooi in en word die einde van die maand bekendgestel. Maduna glo mentorskap is noodsaaklik vir sukses en sy wil die jeug bemagtig met mense se inspirerende stories. Die potgooi sal leiding gee en hoop bied vir verandering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….