Nuus 18:00
BULLETIN 3 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Unity South Africa vra vir ‘n forensiese ondersoek na die besteding by die Werkloosheidsversekeringsfonds
# MISA sê die mislukking van Ford se Kunsmatige Intelligensiestelsels bewys menslike vaardighede kan nie vervang word nie
# En rugby: Die ervare vaskopstut Babalwa Latsha lei ‘n sterk Springbok-vrouespan vir hul kragmeting met Amerika
# Business Unity South Africa sê die Werkloosheidsversekeringsfonds behoort onder administrasie geplaas te word en ‘n forensiese ondersoek moet na die fonds se besteding gedoen word weens voortgesette bestuursprobleme en swak dienslewering. Die organisasie sê hy onttrek sy verteenwoordigers aan die raad van die Fonds nadat pogings om die fonds te verbeter oor ses jaar onsuksesvol was. Volgens die organisasie ondervind werkers steeds vertragings en agterstande met toegang tot voordele, en die vertroue in die WVF is ernstig geskaad.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê Ford in die VSA se besluit om meer as 300 ervare gehalte-inspekteurs en ingenieurs heraan te stel, toon kunsmatige intelligensie kan nie opgeleide werkers vervang nie. Volgens die vakbond kon Ford se KI-stelsels nie sommige gehalte- en voorsieningskettingprobleme waarby menslike kundigheid noodsaaklik is, opspoor nie. Die woordvoerder van MISA, Phakamile Hlubi-Majola dring aan werkgewers moet ondanks tegnologiese veranderings, nie werkers vervang nie om gehalte, innovering en volhoubare industriële groei te verseker:
# Die vakverbond Cosatu sê die regering moet ‘n dringende oplossing vind om die sluiting van Transalloys, Suid-Afrika se laaste oorblywende mangaansmeltery te keer. Die maatskappy het in Desember verlede jaar gewaarsku dat 600 direkte werkgeleenthede en een-duisend-700 indirekte poste in gevaar is as gevolg van stygende elektrisiteitspryse wat tot finansiële verliese lei. Alle smeltoonde by die fasiliteit in Mpumalanga staan stil terwyl finale sluiting hierdie maand in die gesig gestaar word. Matthew Parks van Cosatu sê die land kan nie bekostig om so baie werkgeleenthede te verloor nie:
# Toetse het begin vir moontlike behandeling van die virus-stam wat die dodelike Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo veroorsaak het. Meer as een-duisend-400 gevalle en 438 sterftes is bevestig. Daar is tans geen goedgekeurde entstowwe of behandelings vir die hoogs aansteeklike stam nie. Die toetse word geborg deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en gekoördineer deur wetenskaplikes van die DRK, België en die Verenigde Koninkryk. Ebola besmet gewoonlik diere, maar uitbreking onder mense kan soms begin wanneer mense besmette diere hanteer.
# Rugby: Die Springbok-vroue-vaskopstut met die meeste toetse agter die rug, Babalwa Latsha, is as kaptein vir die seisoen aangewys en sal die span môre op Ellispark in Johannesburg aanvoer teen die Amerikaanse Eagles. Die 32-jarige neem die kapteinskap oor by Nolusindiso Booi, wat verlede jaar uitgetree het. Slegs twee spelers in die beginspan, Alichia Arries en Logan Welman, het nie aan verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi deelgeeneem nie. Afrigter Swys de Bruin het ‘n verdeling van ses voorspelers en twee agterspelers op die bank gekies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-808-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….