Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa versoek die media om ‘n gebalanseerde siening van Suid-Afrika te bied
# Mantashe berispe Mbalula omdat hy te ver gaan met die Zuma-kwessie
# En, krieket: Steve Smith vervang David Warner as Australië se aanvangskolwer
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep op joernaliste gedoen om daartoe verbind te bly om gebalanseerde en onbevooroordeelde voorstellings van die land te lewer. Hy het gepraat op die bekende fotograaf, Peter Magubane, se begrafnisdiens in Johannesburg. Ramaphosa het beklemtoon die Suid-Afrika wat deur Magubane se lens vasgevang is, baie anders is as die Suid-Afrika van vandag. Hy beklemtoon verder die deurslaggewende rol wat joernaliste speel, en sê die media verkry deur hul werk, insluitend dié van Magubane, steeds toegang tot, en die regte op ‘n vrye media:
# Die voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, het uitgevaar teen die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, omdat hy erken het die party het gelieg om oudpresident Jacob Zuma te beskerm teen korrupsie-bewerings rondom sy KwaZulu-Natalse landgoed, Nkandla. Mbalula se openbaring het wydverspreide kritiek ontlok, en kommer oor die uitwerking daarvan op die komende verkiesing. Opposisiepartye, insluitend die DA en die Inkatha Vryheidsparty, bevraagteken die ANC se geskiktheid om te regeer. Mantashe sê Mbalula het uit sy beurt gepraat en moet as leier omsigtig wees:
# Marokko het Suid-Afrika in ‘n stemming verslaan om te beslis watter land uit Afrika die leier word van die Menseregteraad van die Verenigde Nasies. Die ambassadeur van Marokko, Omar Zniber, het gestaan teen Suid-Afrika se ambassadeur, Mxolisi Nkosi. Suid-Afrika was van mening Marokko se menseregterekord beteken die land is onbevoeg om voor te sit by die liggaam, terwyl Rabat Suid-Afrika daarvan beskuldig het dat hy sy pogings ondermyn om die gesogte, hoewel grootliks simboliese, pos te beklee. Reuters berig die argument is ʼn seldsame openbare meningsverskil in die Afrika-groep wat gewoonlik as ʼn blok besluit.
# Kubane maak gereed vir erger ekonomiese swaarkry nadat die regering ʼn verstommende styging van 500-persent in brandstofpryse aangekondig het, met ingang 1 Februarie. Hulle worstel reeds met inflasie en ʼn tekort aan produkte, maar daar bestaan vrese onder Kubane oor die gevolge van die prysstyging. Die kommunistiese regering sê dit is nodig om sy begroting te besnoei weens ʼn ernstige ekonomiese krisis wat vererger is deur die pandemie, Amerikaanse sanksies en strukturele swakhede. Amptelike beramings toon ʼn inflasiekoers van 30-persent verlede jaar en ʼn ekonomiese inkrimping van twee-persent.
# Krieket: Steve Smith sal die heel eerste keer die rol van aanvangskolwer vir Australië vervul in die eerste toets teen die Windies, wat volgende Woensdag in Adelaide begin. Hy vervang David Warner, wat onlangs uitgetree het. Die 34-jarige Smith het nog nooit ‘n beurt geopen in sy loopbaan van 167 eersteklas-wedstryde, insluitend 105 toetse, nie. Keurder George Bailey sê niemand anders wou die verantwoordelikheid aanvaar nie en dit is verfrissend dat Smith aangebied het om dit te doen. Die speler het in sy toetsloopbaan as middelorde-kolwer meer as nege-dusend-500 lopies aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-132-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….