Nuus 18:00
BULLETIN 18 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakekamer oorhandig 67-duisend Suid-Afrikaanse aansoeke om vlugtelingstatus aan Amerikaanse ambassade
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Willemse is terug by die Stormers na beserings
# En die rand versterk tot sy beste vlak teen die dollar sedert Desember
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in Amerika het meer as 67-duisend Suid-Afrikaners se besonderhede aan die Amerikaanse ambassade in Pretoria oorhandig. Dit volg ná president Donald Trump se uitvoerende bevel wat vlugtelingstatus aan Afrikaners bied. Vandag se oorhandiging vorm deel van hul ondersteuning vir hervestiging in die VSA. Die kamer se president, Neil Diamond, sê hulle sal weer fokus op die bevordering van sakebetrekkinge tussen die twee lande. Diegene wat geregistreer het, word versoek om die ambassade te kontak vir die nuutste inligting.
# City Power in Johannesburg het disiplinêre en regstappe ingestel nadat ‘n forensiese ondersoek finansiële onreëlmatighede blootgelê het. Die nutsdiens se woordvoerder, Isaac Mangena, sê uitvoerende hoof Tshifularo Mashava het bevestig dat onwettige aankope, samespanning, en verhoogde fakture gelei het tot finansiële verlies. Vyftien werknemers word dissiplinêr aangekla, met een wat vervolg word. Betalings is gestaak aan kontrakteurs wat verdink word. Mangena het bekend gemaak dat die ondersoek ook interne sameswering oor kabeldiefstal insluit:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het ‘n streng waarskuwing gerig aan departementshoofde wat versuim om hul toegekende begrotings te benut en dreig met onmiddellike dissiplinêre stappe en moontlike afdankings. Dit volg nadat 1,2-miljard-rand na die volgende boekjaar oorgerol is. Die premier het ná die Gautengse begrotingsrede beklemtoon hierdie soort ondoeltreffendheid sal nie geduld word nie, en eis dat fondse vir noodsaaklike dienslewering gebruik word:
# Rugby: ‘n Groep van 30 Stormers vertrek vandag uit Kaapstad vir ‘n toer van twee Verenigde Rubykampioenskaps-wedstryde. Hulle speel Saterdag in Wallis teen Scarlets en volgende Vrydag in Noord-Ierland teen Ulster. Die slot Connor Evans en die agterspelers Sacha Feinberg-Mngomezulu, Suleiman Hartzenberg en Damian Willemse is almal terug in die span na beserings. Die buitesenter Luke Burger is die enigste nuweling in die groep. Ben-Jason Dixon en Stefan Ungerer is uit weens beserings en die stut Neethling Fouché het vaderskapsverlof vir die geboorte van sy tweede kind.
# Die rand het vandag sy beste vlak teenoor die dollar bereik sedert middel-Desember, ondanks al die debatte oor Suid-Afrika se gespanne verhouding met Amerika. Dit het vanoggend tot 18-rand-een-sent teenoor die dollar versterk. Die geldeenheid het verlede maand vlugtig tot bo 19-rand gestyg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, aangekondig het dat sy land gaan ophou om hulp aan Suid-Afrika te verleen oor sy grondonteieningsbeleid. Die dollar het teenoor die meeste geldeenhede verswak, met die mark wat fokus op Amerikaanse beskermingsmaatreëls en tariewe.
Die rand verhandel nou teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-287-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….