Nuus 18:00
BULLETIN 12 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana kondig reuse-verhogings in maatskaplike toelaes aan
# Ramaphosa verdedig die begroting te midde van moeilike keuses
# En ‘n klap met ‘n eier besorg ‘n Britse bokser ‘n stewige boete
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n groot verhoging in maatskaplike toelaes aangekondig en 284-miljard-rand daarvoor begroot in die 2025/’26-boekjaar. Hy het in sy begrotingsrede gesê die ouderdoms- en gestremdheids-toelaag verhoog volgende maand met 130-rand tot twee-duisend-315-rand en die kindertoelaag met 30-rand tot 560-rand. Die toelaag vir pleegsorg verhoog met 70-rand. Godongwana het die maatskaplike noodverligtings-toelaag tot Maart volgende jaar verleng en 35,2-miljard-rand daarvoor begroot:
President Cyril Ramaphosa sê moeilike keuses is gemaak om die begroting te finaliseer. Hy het teenoor die media erken omvattende samesprekings is binne die regering van nasionale eenheid gevoer. Ramaphosa het partye gevra om die begroting te bestudeer en daaroor debat te voer, veral weens dalende inkomste. Hy het Godongwana ook geloof vir sy hantering van die begroting, en beklemtoon die behoefte aan verantwoordelike finansiële bestuur om die land se ekonomiese uitdagings die hoof te bied:
Die DA gaan egter nie die begroting in sy huidige vorm ondersteun nie. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die begroting het nie ‘n parlementêre meerderheid nie en slaag nie daarin om ekonomiese groei verder as belasting en besteding te bevorder nie. Hy vra ‘n duidelike plan om die ekonomie te laat herleef:
Nou ander nuus:
# China sal Vrydag gasheer wees vir Rusland en Iran tydens multilaterale samesprekings oor Teheran se kernprogram. Buitelandse Sake in China sê hulle sal menings uitruil oor die Iranse kernkrag-kwessie en ander kwessies van wedersydse belang. Amerika het tydens president Donald Trump se eerste termyn onttrek aan ‘n belangrike ooreenkoms waarin beperkings op Iran se kernprogram geplaas is in ruil vir die verligting van sanksies. Teheran het ‘n jaar daarna nog die ooreenkoms nagekom, maar daarna sy ooreenkomste verbreek. Pogings om die verdrag te laat herleef het sedertdien misluk.
# Boks: Chris Eubank Junior is met bykans 2,4-miljoen-rand beboet nadat hy nog ‘n Britse bokser, Conor Benn, met ‘n eier in die gesig geslaan het gedurende ‘n onderonsie voor volgende maand se wraakgeveg. Eubank het verlede maand op ‘n nuuskonferensie verwys na Benn se twee positiewe opkikkertoetse in 2022. Die Wêreldboksraad het Benn onskuldig bevind nadat hulle sy verduideliking van ‘n verhoogde inname van eiers as die rede aanvaar het. Eubank het ‘n eier uit sy sak geruk en Benn daarmee geslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-410-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….