Nuus 18:00
BULLETIN 11 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa veroordeel AfriForum en Solidariteit se verspreiding van waninligting oorsee as onpatrioties
# Die dodetal in die Gautengse busongeluk styg tot 16
# En rugby: Georgië skop sy SA toer in Bloemfontein af
# President Cyril Ramaphosa veroordeel ten sterkste wat hy noem AfriForum en Solidariteit se verspreiding van waninligting oor Suid-Afrika in die buiteland en noem hulle optrede onpatrioties. Ramaphosa het mondelingse vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord en die organisasies gekritiseer vir die ondermyning van die land se soewereiniteit deur internasionale ingryping na te jaag, eerder as om kwessies plaaslik op te los. Hy het ook aangevoer die Nasionale Vervolgingsgesag moet ondersoek instel of hulle optrede as hoogverraad beskou kan word:
Nog nuus uit die Parlement: Die Departement van Basiese Onderwys sê hy het meer as 93-persent van puttoilette in openbare skole uitfaseer. Minister Siviwe Gwarube het aan die Parlement gesê haar departement bly daartoe verbind om die sperdatum wat president Ramaphosa vir hierdie maand gestel het te haal, ondanks fiskale uitdagings. Sy gaan die Oos-Kaap en Limpopo besoek om vordering te monitor. Die departement sê in ‘n verklaring hy bly daarop gefokus om te verseker alle leerders het toegang tot veilige sanitasie, ondanks agterstande met infrastruktuur en begrotingsbeperkings.
# Die dodetal in vanoggend se busongeluk op die R21 in Kemptonpark, Gauteng, het tot 16 gestyg nadat nog vier passasiers in die hospitaal gesterf het. Die bus, wat aan die Ekurhuleni-munisipaliteit behoort, het meer as 70 passasiers van Katlehong na Kemptonpark vervoer toe dit omgeslaan het toe die bestuurder ‘n ander voertuig probeer vermy het. Oorlewendes het die toneel as chaoties beskryf en sê passasiers het by die vensters uitgeval. Die owerhede hou vol die bus was padwaardig. Die ondersoeke duur voort.
# Die Streekhof in Skukuza, Mpumalanga, het ‘n 38-jarige Mosambiekse burger, Silas Mathebula, tot 30-jaar tronkstraf gevonnis vir misdade wat verband hou met renoster-stropery in die Kruger-wildtuin. Mathebula is skuldig bevind aan betreding, die doodmaak van drie renosters en vuurwapenmisdrywe. Hy is in 2019 aangekeer en het borgtog gekry, waarop hy weer in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is vir ‘n soortgelyke oortreding. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Monica Nyuswa, het die vonnis verwelkom:
# Rugby: Internasionale rugby keer op 12 Julie terug na Bloemfontein wanneer Georgië se nasionale span teen die Cheetahs te staan kom, ‘n week voor hulle toets teen die Springbokke in Mbombela. Die Vrystaat Cheetahs se uitvoerende hoof, Rory Duncan, sê hulle is verheug om Georgië te verwelkom vir wat sonder twyfel ‘n opwindende wedstryd sal wees. Die voormalige Engelse haker Richard Cockerill, wat nou Georgië se hoofafrigter is, sê om teen die Cheetahs te speel is ‘n wonderlike geleentheid om voor te berei vir die toets teen die Bokke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-379-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….