Nuus 18:00
BULLETIN 10 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA Suikerrietkwekersvereniging vra minister Godongwana om suikerbelasting onveranderd te laat
# ‘n Ondersoek na die Helen Joseph-hospitaal bevestig swak infrastruktuur- en personeelkwessies
# En rugby: Die Bokke is steeds die beste in die wêreld al het hulle in November laas gespeel
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging versoek die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om sy steun vol te hou vir beleid wat die verhoging in suikerbelasting vermy, om nie die suikerbedryf en landelike gemeenskappe te benadeel nie. Die vereniging sê hierdie soort belasting het reeds verliese in die suikerbedryf veroorsaak, en verdere stygings kan tot nog sluitings lei. Die organisasie se voorsitter, Higgins Mdluli, bepleit groei en werkskepping deur uiteenlopendheid, insluitend biobrandstof en volhoubare stralerbrandstowwe, om die bedryf se langtermyn-ontwikkeling te ondersteun.
# ‘n Ondersoek na die Helen Joseph-hospitaal in Gauteng bevestig die reuse-infrastruktuur- en personeelkwessies ná ‘n video van ‘n voormalige uitsaaier, Thomas Holmes, verlede September wyd rondgestuur is. Die Kantoor vir die Voldoening aan Gesondheidstandaarde en die Gesondheidsombud het swak hospitaalinfrastruktuur en watervoorsieningskwessies ontbloot, insluitend ‘n wanfunksionele departement, ongevulde poste en swak bestuur. Taole Mokoena van die ombud sê hoewel sommige pasiëntesorgklagtes nie bewys is nie, eis die ondersoek beter bestuur, beter personeel en die verbetering van hospitaaldienste:
# Die DA in Gauteng vra die LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, om dringend aandag te gee aan ‘n agterstand van 40-duisend onuitgereikte bestuurderspermitte. Evert du Plessis van die DA sê die vertraging dwing motoriste om onwettig op te tree, wat sleutel-bedrywe soos taxi- en e-taxi-dienste raak. Hy beskuldig die ondoeltreffendheid van regering op provinsiale en plaaslike vlak vir die krisis en versoek dringende optrede:
# Kanada se inkomende eerste minister, Mark Carney het ‘n uitdagende houding ingeslaan en beloof dat hy die handelsoorlog teen die Amerikaanse president, Donald Trump, sal wen. Die voormalige sentrale bankier sê Kanada sal nooit deel van die Verenigde State wees nie. Carney het geen tyd verspil om die Kanadese manier van lewe te verdedig nie nadat die Liberale Party hom met ‘n oorweldigende meerderheid verkies het om Justin Trudeau op te volg. Kanada moet teen Oktober ‘n verkiesing hou, maar kan moontlik ‘n blitsverkiesing binne weke hou. Meningspeilings dui aan dat die Konserwatiewe opposisie effens voorloop.
# Rugby: Die Springbokke is steeds veilig boaan die wêreldranglys al het hulle in November laas gespeel, maar Ierland het die tweede plek aan die All Blacks afgestaan na Saterdag se nederlaag teen Frankryk, wat vierde is. Les Bleus het die geleentheid verbrou om die eerste keer sedert Julie 2022 bo Ierland op te skuif, deur ‘n voorsprong van 42-13 deur hulle vingers te laat glip om uiteindelik 42-27 te wen. Die res van die top-tien bly dieselfde met Argentinië vyfde, gevolg deur Engeland, Skotland, Australië, Fidji en Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-734-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-906-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….