Nuus 18:00
BULLETIN 7 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Staatsdiens-vakbond eis ‘n ondersoek na beweerde finansiële wanbestuur by die Nasionale Loterykommissie
# Rusland praat van vergeldingsmaatreëls teen die Europese Unie oor Oekraïne
# En ‘n man van Suid-Carolina in Amerika gaan deur ‘n vuurpeloton tereggestel word
# Die Vereniging van Staatsamptenare eis ‘n volledige forensiese ondersoek na beweerde finansiële wanbestuur en korrupsie by die Nasionale Loterykommissie. Dit volg ná die bedanking van die onderneming se sekretaresse, Nompumelelo Nene, wat 145 aanklagte teen haar het. Sy het egter haar volle salaris van byna ses-miljoen-rand ontvang sedert haar skorsing in November 2022. Claude Naiker van die vakbond eis misdaad-ondersoeke na diegene wat verantwoordelik is vir die misbruik van openbare fondse om verdere korrupsie te voorkom:
# Die vakbondfederasie Cosatu het die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se oproep aan die regering verwelkom om die befondsingstekort aan te vul wat veroorsaak is deur Amerika se besluit om die presidensiële noodplan vir Vigs-verligting te beëindig. Sowat 500-duisend MIV/Vigs-pasiënte maak staat op die program. Matthew Parks van Cosatu moedig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aan om befondsing in die begroting toe te wys:
# Rusland het die Europese Unie se konfronterende retoriek veroordeel nadat die groepering se leiers op ‘n krisisberaad besluit het om hulle verdediging te verskerp. Die Kremlin se woordvoerder, Dmitry Peskov, het aan joernaliste gesê dat Rusland die EU noukeurig dophou, en dat hulle hierdie militarisering en die uitbeelding van Rusland as die hoofvyand, aktief bespreek. Hy sê dit kan moontlik ‘n onderwerp van diep bekommernis word en kan lei tot ‘n situasie waar dit nodig word om toepaslike vergeldingsmaatreëls in te stel. Hy het nie verder uitgebrei nie.
# Rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi en die loskopstut Ox Nché is terug in die Haaie se opdrafspan vir môre se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd in Durban. Emile van Heerden het ook herstel van ‘n besering. Lappies Labuschagne vervang die beseerde Vincent Tshituka en Henry Immelman maak sy buiging op heelagter. Grant Williams en Jordan Hendrikse is die skakelpaar terwyl Francois Venter instaan vir die beseerde Lukhanyo Am. Die haker Fez Mbatha en die losvoorspeler James Venter is op die bank na hulle lank beseeer was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-595-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-916-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Gevangene in Suid-Carolina wat sy gewese meisie se ouers in 2001 vermoor het, sal later vandag die eerste Amerikaner in 15-jaar word om deur ‘n vuurpeloton tereggestel te word. Drie vrywilligers agter ‘n gordyn sal gelyktydig op die 67-jarige Brad Sigmon skiet waar hy aan ‘n stoel vasgemaak sit met ‘n teiken op sy hart en ‘n sak oor sy kop. ‘n Dokter sal daarna sy dood bevestig. Die staat laat ooggetuies toe om die teregstelling van agter koeëlvaste glas waar te neem
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….