Nuus 18:00
BULLETIN 5 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA eis beslissende maatreëls teen wanadministrasie in die hersiene begrotingsrede
# Die polisie ondersoek AfriForum se bewerings oor plaasmoorde te midde van omstredenheid
# En rugby: Reds-spelers mag Sondag se wedstryd teen die Crusaders misloop weens ‘n sikloon by die huis
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om voorkeur te gee aan die stryd teen korrupsie en finansiële wanbestuur wanneer hy volgende week sy hersiene begrotingsrede lewer. OUTA kritiseer die regering se versuim om verkwistende besteding en swak finansiële bestuur teen te staan, wat die begroting jaarliks met 500-miljard-rand kan aanvul. Uitvoerende hoof Wayne Duvenage verwag betekenisvolle veranderings in die begroting:
# Die polisie hersien ‘n lys van plaasaanvalle wat AfriForum ingedien het, na aanleiding van bewerings dat die amptelike misdaadstatistiek oor plaasmoorde foutief is. Die voorlopige bevindings van die polisie se misdaadregistrateur bevestig net een plaaseienaar is tussen Oktober en Desember verlede jaar vermoor, wat nie strook met die burgerregte-organisasie se bewering van agt plaasmoorde nie. Die ministerie van Polisie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die bevestigingsproses is aan die gang en geen bykomende moorde is geïdentifiseer nie:
# Turkye beplan glo om ‘n muur van 8,5-kilometer langs sy westelike grens te bou waar Griekeland en Bulgarye reeds hul eie heinings opgerig het. Die doel is om onwettige immigrante te verhoed om die grense oor te steek na lidlande van die Europese Unie. Turkye het in die verlede mure gebou langs sy grense met Iran en Sirië. Die land deel ‘n grens van 200-kilometer met Griekeland, wat skei langs die Evros-rivier. Turkye se weskus is ook ‘n beginpunt vir onwettige immigrante wat die Griekse eilande wil bereik.
# Rugby: Spelers van die Reds in Brisbane sal verskoon word van Sondag se Super Rugby Pacific-wedstryd teen die Crusaders in Nieu-Seeland as hulle eerder wil huis toe gaan voor ‘n dreigende sikloon aan Australië se ooskus. Die span het reeds in Christchurch aangekom. Afrigter Les Kiss sê hulle sal alles moontlik doen om die spelers by die huis te kry aangesien vlugte reeds volbespreek is. Die tropiese sikloon Alfred gaan die kus waarskynlik Vrydag as ‘n kategorie twee-storm tref met swaar reën en moontlike lewensbedreigende kitsvloede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-431-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-903-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-48-sent per vat.
# En ten slotte: Fietsryers wat die naweek aan die 47ste Kaapstadse fietstoer deelneem, word gevra om die Suid-Afrikaanse vlag te laat wapper ter ondersteuning van liefdadigheidsorganisasies soos KANSA, die Tygerberg-hospitaal se Kindertrust en die Sozo-stigting. Hisense SA sal die nuutste wasmasjiene aan hierdie liefdadigheidsorganisasies skenk vir elke 109 vlae wat oor die wenstreep gaan. Die projek het ten doel om die wedloop se uitwerking op liefdadigheid te versterk, met die borg wat tot 329-duisend-rand vir wasmasjiene belowe het ter ondersteuning van die organisasies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….