Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola lei die SA afvaardiging na Den Haag
# Die Parlement sê Gordhan is die minister met die meeste onbeantwoorde vrae oor sy portefeulje
# En, rugby: Die nuwe afrigter wil hê oorsese spelers moet beskikbaar wees vir die All Blacks
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Den Haag in Nederland waar die land se volksmoord-saak teen Israel deur die Internasionale Geregshof aangehoor sal word. Die afvaardiging bestaan uit vooraanstaande diplomate en amptenare wat aangevul sal word deur globale politieke figure, soos die voormalige leier van die Britse opposisie, Jeremy Corbin. Lamola sê hy is vasbeslote om die humanitêre krisis in Gaza te beëindig. Woordvoerder Chrispin Phiri beloof daar sal deur die week nuus oorgedra word aan die media:
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, is uitgewys as die minister met die meeste onbeantwoorde vrae van parlementslede. Die Parlement het ‘n lys van ministers gepubliseer met onbeantwoorde vrae wat terugdateer tot Februarie verlede jaar. Gordhan is in die vegrootglas met 17 onbeantwoorde vrae in sy portefeulje, wat oorsig insluit oor staatsbeheerde ondernemings, soos Eskom. Ander op die lys sluit in die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, en die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Mondli Gungubele.
# Eskom se raad het amptelik die aanstelling aangekondig van die raad van die Nasionale Versendingsmaatskappy van Suid-Afrika. Dit is ʼn sleutelonderdeel van die wetlike verdeling van Eskom in drie afdelings – Opwekking, Verdeling en Transmissie. Die nuutaangestelde voorsitter, Priscillah Mabelane, sal ʼn span van 12 uitvoerende lede lei met Brian Armstrong as die hoof onafhanklike direkteur. Die voorsitter van Eskom se raad, Nteto Nyathi, benadruk die stap is ʼn belangrike mylpaal om die beplande hervorming van die elektrisiteitsbedryf te ontsluit.
# Australië het ʼn verbod ingestel op die Nazi-saluut en simbole wat verbind word met aangewese terreurgroepe in ʼn poging om ver-regse bedrywighede te beperk. Die wet maak dit ʼn oortreding om Nazi-kentekens te vertoon, insluitende die Swastika, en die verkoop van simbole wat verbind word met groepe soos Hamas en Isis. Die stap volg op ʼn toename in haatvoorvalle. Iemand wat skuldig bevind word, kan tot 12-maande gevangenisstraf opgelê word. Die regering bevestig daar is geen plek in Australië vir dade en simbole wat die gruwels van die Joodse volksmoord en terreurdade verheerlik nie.
# Rugby: Die nuwe afrigter van die All Blacks, Scott Robertson, wil hê spelers wat oorsee speel moet vir die nasionale span beskikbaar wees. Die voormalige hoofafrigter van die Springbokke, Jacques Nienaber, het na die Wêreldbekertoernooi gesê daar is verskeie voordele om spelers oorsee te hê, soos dat dit aan jonger spelers die geleentheid bied om ʼn naam vir hulleself te maak. Robertson het Nieu-Seeland Rugby versoek om sy reëls te verander nadat 12 van die spelers in die Wêreldbeker-groep na die toernooi oorsee gaan speel het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-806-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….