Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse diplomaat bedank te midde van spanning met Suid-Afrika
# ‘n Berugte Mexikaanse dwelmbaas word aan Amerika uitgelewer vir ‘n moord van 40-jaar gelede
# En krieket: Die Proteas besef Engeland gaan môre ‘n ander kalant wees
# Die Amerikaanse diplomatieke hoof in Suid-Afrika, Dana Brown, het uit haar land se Departement van Buitelandse Sake bedank. News24 berig dit is onmiddellik van krag terwyl spanning toeneem tussen Pretoria en Washington oor Suid-Afrika se beleid. Brown het die posisie sedert Augustus verlede jaar beklee en was die ambassadeur se tweede-in-bevel. Die betrekkinge tussen die twee lande het ‘n algehele laagtepunt bereik nadat president Donald Trump uitvoerende bevele onderteken het om alle befondsing aan Suid-Afrika te staak en vlugteling-status vir Afrikaners toe te staan.
Mexiko het intussen 29 lede van beweerde dwelmkartelle aan Amerika uitgelewer. Onder hulle is die berugte dwelmbaas Rafael Caro Quintero, wat in Amerika gesoek is vir die moord op ‘n Amerikaanse agent 40-jaar gelede. Dit is een van die grootste uitlewerings in Mexiko se geskiedenis en ‘n belangrike stap vir die lande se bilaterale veiligheidsbetrekkinge. Dit volg nadat Trump gedreig het om tariewe op Mexikaanse invoere in te stel en hulle daarvan beskuldig het dat hulle nie dwelmhandel en migrasie bekamp nie.
Terug in Suid-Afrika:
# Die Vereniging van Staatsamptenare veroordeel die versuim om klas- en verblyfgeld te betaal aan 720-duisend studente wat afhanklik is van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Hierdie krisis het veroorsaak dat studente nie toegang tot hul uitslae het nie en ander kan nie met hul studies voortgaan nie. Claude Naicker van die vakbond versoek die ministerie van Hoër Onderwys om betalings te bespoedig, NSFAS se rol te heroorweeg en instellings regstreeks te betaal:
# Landbou-ontleders verwag ‘n gesonde mielie-oes danksy die uitstekende somerreën ná ‘n droogtegeteisterde seisoen. Die Oesskattingskomitee voorspel ‘n styging van 8,26-persent in kommersiële mielie-oeste, met witmielies wat met meer as 22-persent sal toeneem. Ander somergewasse, insluitend sonneblom en sojabone, sal ook toeneem. ‘n Ekonoom, Wandile Sihlobo, het aan SABC News gesê graanproduksie sal 17-miljoen ton oorskry, wat ‘n duidelike teken van herstel aandui:
# Krieket: Suid-Afrika besef Engeland kan ‘n taai kalant wees in môre se Kampioenetrofee-wedstryd in Karatsji, Pakistan. Die teenstanders is reeds in die groepfase uitgeskakel terwyl die Proteas ‘n goeie kans staan om tot die halfeindronde deur te dring. Suid-Afrika se afrigter, Rob Walter, sê sy manne moet lig loop teen ʼn gehalte span wat tans sukkel en ʼn internasionale vertoning kan lewer. Hy het bekendgemaak die paaltjiewagter en lopievraat, Heinrich Klaasen, is terug nadat hy die openingswedstryd teen Afganistan misgeloop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-803-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-849-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….