Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump staak MIV-hulp aan Suid-Afrika onmiddellik
# Die soektog na Vlug MH370 van Maleisië word hervat tien-jaar nadat die vliegtuig verdwyn het
# En krieket: Suid-Afrika, Australië en Afganistan veg om twee plekke in die halfeindronde van die Kampioenetrofee
# President Donald Trump se Amerikaanse administrasie het die beëindiging van USAID-befondsing vir MIV-programme in Suid-Afrika aangekondig, wat onmiddelik in werking tree. News24 berig dit sal verskeie organisasies raak wat ondersteuning ontvang deur die Presidensiële Noodplan vir Vigs-verligting. Hierdie stap sal meer sterftes en terugslae tot gevolg hê in die stryd teen MIV en tuberkulose. Dit is in 2003 van stapel gestuur om Vigs te beveg in lande met hoë MIV-besmettingskoerse. Suid-Afrika het sedertdien sowat 145-miljard-rand ontvang, met sowat 8,1-miljard-rand wat vir die huidige Amerikaanse boekjaar tot 30 September was.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap vorder goed ná verlede week se suksesvolle vergadering met ministers van Buitelandse Sake in Johannesburg, sowel as die huidige vergadering met ministers van Finansies en bestuurders van sentrale banke in Kaapstad. Volgens Ntshavheni het die kabinet beklemtoon die G20 bly noodsaaklik vir internasionale ekonomiese samewerking en die bevordering van Suid-Afrika se doelwitte van solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid:
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Koketso Mano, sê verbruikersinflasie het in Januarie tot 3,2-persent gestyg vanaf drie-persent in Desember. Dit is die eerste data nadat die mandjie goedere bygewerk is. Die mark verwag inflasie sal in Februarie op 3,5-persent staan en teen die einde van die jaar bestendig raak bo vyf-persent. Mano sê enige verhoging in die BTW-koers sal tot selfs hoër inflasie lei:
# Die soektog na die vermiste Malaysia Airlines Vlug MH370 word hervat, meer as ‘n dekade nadat dit verdwyn het in een van die grootste raaisels in die lugvaartgeskiedenis nog. Daar was 239 mense aan boord die Boeing 777 toe dit op 8 Maart 2014 op pad van Kuala Lumpur na Beijing verdwyn het. ’n Verslag van 495 bladsye oor die verdwyning lui die vliegtuig se kontroles is waarskynlik doelbewus gemanipuleer om van koers af te gaan. Die Maleisiese minister van Vervoer, Anthony Loke, het sedertdien gesê die soektog sal nie onbepaald duur nie.
# Krieket: Afganistan se briljante oorwinning oor Engeland in gister se Kampioenetrofee-wedstryd in Lahore, Pakistan, beteken ‘n driehoekige stryd om die twee kwalifiserende plekke uit Groep B. Suid-Afrika, Australië en Afganistan het aldrie nog ‘n kans om die halfeindronde te haal. Australië en Afganistan pak mekaar môre in Lahore, en die Proteas speel Saterdag in Karatsji teen Engeland. Suid-Afrika is boaan die groep terwyl Australië ook drie punte het, en Afganistan twee. Nieu-Seeland en Indië het reeds deurgedring uit Groep A.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-985-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-889-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….