Nuus 18:00
BULLETIN 25 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp belastingverhogings en sê die begroting moet op groei en werksgeleenthede fokus
# Die Nasionale dialoog gaan tradisionele en Khoi-San-leiers insluit en fokus op gedeelde vooruitgang
# En krieket: Pakistan se vertrek uit die Kampioenetrofee veroorsaak groot onenigheid in die land
# Die DA vra dat die hersiene 2025-begroting voorrang gee aan groei en werkskepping en nie belastingverhogings nie. Die DA se woordvoerder vir Finansies, Mark Burke, voer aan die tekort van 60-miljard-rand kan gedek word deur verkwistende staatsbesteding te besnoei eerder as om landsburgers te belas. Die party stel kostebesnoeiingsmaatreëls, ekonomiese hervormings en beter belastingnakoming voor om inkomste ‘n hupstoot te gee. Burke is oortuig dat Suid-Afrika met ‘n bestedings-klassifiseringsprobleem worstel, en eis dat die regering nuwe belastingverhogings verwerp.
# President Cyril Ramaphosa het tydens die jaarlikse opening van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers aangekondig die leiers sal betrokke wees by die komende nasionale dialoog. Die dialoog sal fokus op ‘n gedeelde visie vir Suid-Afrika se toekoms en vooruitgang vir almal. Ramaphosa sê dit is noodsaaklik om alle gemeenskappe te betrek, veral dié in landelike gebiede, om seker te maak almal se stem word gehoor:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mblalula, het die party se hersaamgestelde leierskap in KwaZulu-Natal aangekondig. Die nuwe topses-leiers is Mike Mabuyakhulu, Jeff Radebe, Siboniso Duma, Weziwe Thusi, Nomagugu Simelane, en Nomusa Dube-Ncube. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie in eThekwini gesê dié groep volg die vorige provinsiale span op wat die party bestuur het tydens verlede jaar se nasionale verkiesing toe die ANC se steun dramaties gedaal het:
# Krieket: Wanhoop en eise vir grootskaalse verandering het die krieketmal Pakistan getref nadat die gasheer uit die Kampioenetrofee geskakel is – skaars ‘n week nadat die begin van die eerste internasionale toernooi in dekades gevier is. Die verdedigende kampioen het eers verlede week in Karatsji met 60 lopies teen Nieu-Seeland verloor, voor hy Sondag met ses paaltjies teen sy aartsvyand, Indië, vasgeval het. Pakistan het toe gister sy hoop op Bangladesj gevestig om Nieu-Seeland te klop om ‘n kans te staan om die halfeindronde te haal, maar dit het nie gebeur nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-640-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-939-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-85-sent per vat.
# En laastens: Ondersoek word ingestel na ‘n video wat met kunsmatige intelligensie geskep is, van die Amerikaanse president Donald Trump wat Elon Musk se voete suig, nadat dit in die hoofkantoor van ‘n Amerikaanse staatsdepartement gespeel is. Die video was gister vlugtig op skerms by die Amerikaanse Departement van Behuising en Stedelike Ontwikkeling. ‘n Onderskrif is op die video geplaas met die woorde “Long live the Real King“, wat verwys na Trump se boodskap op sy Truth Social-platform, ter viering van sy regering se verwerping van die spitsverkeerheffings in New York.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….