Nuus 18:00
BULLETIN 1 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Madlanga waarsku Khan se regspan oor media-opmerkings
# Die NVG bekommerd nadat die Handelsmisdaadhof Vusimuzi “Cat” Matlala se vonnis verhoog
# En, die hoofsanger van die Village People, Victor Willis, sterf op 74
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, het die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, se regspan gewaarsku om nie opmerkings te maak dat getuies vermoor word weens inligting wat van die ondersoek uitlek nie. Dit volg ná opmerkings tydens ‘n media-onderhoud na die moordpoging op Khan. Madlanga beklemtoon sulke stellings kan die kommissie se integriteit ondermyn en het regsverteenwoordigers aangespoor om selfbeheersing toe te pas:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag wag op die verdediging se reaksie nadat landdros Ignatius du Preez van die Pretoria Handelsmisdaadhof die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se tronkstraf tot 12 jaar verleng het. Die staat en verdediging het voorheen ooreengekom op ‘n vonnis van agt jaar vir bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met ‘n SAPD-Medicare24-tender ter waarde van 228,6-miljoen-rand. Du Preez het die pleitooreenkoms as onregmatig bestempel. Kaizer Kganyago van die NVG sê hulle is op 13 Julie terug in die hof:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid ontken bewerings op sosiale media van ‘n agterstand in die Helen Joseph-hospitaal se lykshuis en sê dis gegrond op ‘n ou en misleidende video. Woordvoerder Steve Mabona bevestig daar is voldoende ruimte, met 77 bergingsplekke en 25 liggame wat tans geberg word. Hy sê gesinne kom haal daagliks liggame en daar is geen agterstand nie, terwyl sewe onopgeëiste gevalle tans volgens voorgeskrewe prosedures verwerk word:
# Die hoofsanger van die 1970’s disko-groep Village People, Victor Willis, is in die ouderdom van 74 dood ná ‘n kort maar ernstige siekte. Die musikant is in Texas gebore en was die hoofsanger en medeskrywer van die groep se grootste treffers, insluitend YMCA, Go West en In The Navy. Die groep het in die 1970’s internasionale roem verwerf deur op te tree in kostuums wat stereotipiese macho-karakters uitgebeeld het. Willis het gewissel tussen ‘n polisieman en ‘n vlootoffisier. Hy het die groep in 1980 verlaat, maar het in 2017 weer aangesluit en in Januarie 2025 het hy saam met die groep YMCA uitgevoer by die Amerikaanse president Donald Trump se voor-inhuldigingsbyeenkoms.
# Sokker: Vrydag se ronde van 32-kragmeting tussen Portugal en Kroasië kan vir die eerste keer by ‘n Wêreldbeker-toernooi twee aanvallers ouer as 40 teen mekaar sien speel. Die twee kapteins, Cristiano Ronaldo en Luka Modric, het ses seisoene saam vir die Spaanse reus Real Madrid gespeel, maar sal hierdie keer in verskillende spanne wees. Daar word gesê hulle sukkel om die aanslag van die jare te trotseer, terwyl beide spelers die vraag in die gesig staar of hul status as nasionale helde meer van ‘n las as ‘n voorsprong vir hul spanne geword het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-850-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-92-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….