Nuus 18:00
BULLETIN 28 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste OBK-hoof, Patrick Dlamini, betwis sy skorsing in die hof
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku infrastruktuurafname belemmer groei
# En, die Departement van Wetenskap sê vernuwing is die sleutel tot die nywerheidsontwikkeling van die SAOG
# Die geskorste uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, Patrick Dlamini, het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om sy voorsorgskorsing te betwis. Dlamini voer aan die OBK-raad het onwettig opgetree deur hom te skors sonder om die besluit behoorlik te oorweeg, en hy het van sy skorsing deur mediaberigte te hore gekom. Sy skorsing volg op ‘n klagte verlede week deur ‘n anonieme verklikker. Die OBK staar steeds uitdagings in die gesig wat verband hou met ‘n dekade oue belegging in Lanseria-lughawe.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se infrastruktuurmislukkings is ‘n belangrike oorsaak van swak ekonomiese groei. ‘n Ekonomiese beleidsontleder, Anlu Keeve, sê in ‘n nuwe verslag onbetroubare water-, krag-, spoor- en hawedienste ontmoedig beleggings, verhoog sakekoste en verminder belastinginkomste. Die verslag voer aan beleidsmislukkings, swak instandhouding, swak verantwoordbaarheid en ondoeltreffende verkryging veroorsaak die afname. Sy sê om infrastruktuur te herstel vereis beter staatsbestuur, deurlopende instandhouding en hervorming om langtermyn ekonomiese groei te ondersteun.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, het die bevestiging van datums vir die opening van die 2027- aanlyn aansoektyd vir Graad 1- en Graad 8-leerders verwelkom. Die LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, het aangekondig dat aansoeke volgende Woensdag open en op die vierde September sal sluit. Makaneta het ouers aangespoor om hierdie geleentheid te gebruik om so gou as moontlik ‘n plek vir hul kinders vir volgende jaar te verseker:
# Die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovering sê innovasie sal sentraal staan om industrialisering regoor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap teweeg te bring. Die direkteur-generaal Mlungisi Cele, het tydens die SAOG se Industrialiseringsweek in KwaZulu-Natal, aan die SABC gesê wetenskap, tegnologie en industrialisering moet saam vorder. Hy het klem gelê op belegging in navorsing, wiskunde- en wetenskaponderwys, en mineraalveredeling om streeksnywerhede te versterk:
# Tennis: Die Kanadese Ope is weer sonder top-spelers nadat talle aan volgende maand se toernooi onttrek het. Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en nommer-drie, Carlos Alcaraz van Spanje, gaan weer nie na Montreal reis nie. Ander spelers soos Jack Draper van Brittanje en Holger Rune van Denemarke gaan ook afwesig wees. Nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, gaan volgens berigte ook nie aan die vrouetoernooi in Toronto deelneem nie, terwyl Wimbledon se naaswenner, Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek, en die Kanadees Victoria Mboko albei beseer is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-716-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-23-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….