Nuus 18:00
BULLETIN 11 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Soldariteit teiken Bidvest-aandeelhouers in Amerika oor diskriminerende plaaslike praktyke
# ‘n Verhoor oor die Julie-onrus word uitgestel tot September
# En sokker: Banyana Banyana hoop om vanaand deur te dring na die uitklopronde van die Afrikabeker-vrouetoernooi
# Die vakbond, Solidariteit, het die Amerikaanse regering en beleggers gevra om teen Bidvest op te tree oor sy beleid wat die kinders van lae-inkomste wit werknemers verhoed om onderwyshulp te ontvang. Briewe is gestuur aan die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, en groot aandeelhouers in Amerika, wat hulle aanmoedig om die diskriminerende praktyk te keer. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle beplan om soortgelyke beleid in ander maatskappye teen te staan:
# ‘n Vermeende aanstigter van die Julie-onrus, Bonginkosi Khanyile, se verhoor in die Durbanse Streekshof is tot laat-September uitgestel. Khanyile word aangekla van aanhitsing tydens 2021 se onrus in KwaZulu-Natal na oudpresident Jacob Zuma se gevangenisstraf vir minagting van die hof omdat hy nie voor die staatskapingskommissie verskyn het nie. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Natasha Ramkisson-Kara, het bevestig daar is vyf getuies vir die staat:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ’n verhalingsbevel van 67-miljoen-rand verwelkom wat die Spesiale Ondersoekeenheid teen Kroucamp-loodgieters bekom het. Die Spesiale Tribunaal het bewyse gevind van vervalste aanbiedings, omkopery en belangebotsings tussen 2015 en 2019. Macpherson het die departement se zero-verdraagsaamheid teen korrupsie herbevestig en verwys na leefstyl-oudits vir meer as 400 hoë-risiko amptenare en voortdurende pogings om verkrygingsprosesse en aanspreeklikheid te versterk.
# Vier voormalige werknemers van Namibië se Nasionale Petroleum-korporasie en vier privaat persone is in Windhoek in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie gekoppel aan vorige transakies met Namcor. Die Anti-Korrupsiekommissie sê al agt staan tereg op aanklagte ingevolge die Teen-korrupsiewet. Die hoë-profiel name sluit die voormalige besturende direkteur van Namcor, Immanuel Mulunga, in. Frederico Links van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing sê die klagtes spruit uit ’n mislukte brandstoftransaksie van 52-miljoen-rand met Enercon:
# Sokker: Banyana Banyana speel vanaand in Marokko teen Tanzanië in hulle tweede groep C-wedstryd van die Afrikabeker-vrouetoernooi en hoop om ‘n plek in die uitkloprondes te bespreek. Die verdedigende kampioen is voor in die groep met drie punte na die oorwinning oor Ghana. Afrigter Desiree Ellis sê die span moet op verdediging gefokus bly en doelgeleenthede benut. Tanzanië se afrigter, Bakari Shime, sê sy span is gereed om vir ‘n oorwinning te veg. Die wedstryd begin vanaand 9-uur Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-922-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….