Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Tshwane onthul die Zanzou-nagklub word onwettig bedryf
# Gholf: Charl Schwartzel en Branden Grace bevestig hulle deelname aan die Suid-Afrikaanse Ope in Durban
# En twee mense word aangekla van diefstal van die geskiedkundige koperklok op Groot Constantia
# Die DA in Tshwane het onthul die Zanzou-nagklub in Pretoria word bedryf sonder behoorlike nakoming van sonering. Die party se woordvoerder oor Gesondheid, Dikeledi Selowa, sê ondersoeke het bevind die klub is as ‘n kategorie 1-onderneming gesoneer, wat nagklubbedrywighede verbied. Dit volg op videomateriaal van beweerde marteling by die kuierplek, wat nou strafregtelik ondersoek word. Selowa vra strenger nakoming van verordeninge, insluitend inspeksies van nagklubs sonder vooraf aankondiging:
# Die vakbond Solidariteit sê verdere belastingverhogings in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede sal ‘n klap in die gesig wees vir Suid-Afrikaners. Hulle versoek die Nasionale Tesourie om korporatiewe belastingkoerse te verlaag as deel van ‘n ekonomiese herstelplan. Solidariteit se woordvoerder, Theuns du Buisson, bepleit salarisverlagings vir nie-noodsaaklike staatsamptenare as ‘n manier om hulpbronne beskikbaar te stel vir belangrike sektore soos wetstoepassing.
# Suid-Afrika bied die vergaderings van die G20 indiensnemings-werksgroep in Gqeberha in die Oos-Kaap aan, wat fokus op arbeid- en indiensnemingskwessies. Die vierdaagse geleentheid sal jeug-indiensneming, geslagsgelykheid, inkomste-ongelykheid en die uitwerking van digitalisering dek. Gastelande in Afrika is genooi om streeksamewerking te bevorder. Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê die vergaderings strook met Suid-Afrika se tema vir die presidentskap van die G20, wat solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid is:
# Gholf: Charl Schwartzel en Branden Grace speel vanaf 27 Februarie tot 2 Maart in die Suid-Afrikaanse Ope op die Durbanse Buiteklub. Hulle sluit aan by die verdedigende kampioen, Dean Burmester, in ‘n sterk plaaslike veld wat gaan probeer om ʼn sewende agtereenvolgende keer ʼn Suid-Afrikaanse oorwinning te behaal. Onder die Suid-Afrikaanse aanspraakmakers, is Shaun Norris wat tans in die vyfde plek op die ranglys van die DP World Tour se Race to Dubai is. Hy beklee die hoogste plek van al die Suid-Afrikaner in dié reeks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-249-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-919-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Twee mense word aangekla in verband met die diefstal van Groot Constantia in Kaapstad se geskiedkundige koperklok in September verlede jaar. Die klepel is teruggevind maar die klok self is steeds skoonveld. Een verdagte het in die Landdroshof in Wynberg verskyn op aanklagte van onder meer diefstal en oortreding van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.’n Beloning van 20-duisend-rand word aangebied vir inligting wat lei tot die terugvind van die gesteelde klok. Die wynlandgoed dateer uit 1685.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….