Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Macpherson beklemtoon die DA se verbintenis om korrupsie en wanbestuur te beveg
# Krieket: Sri Lanka behaal ‘n verstommende eendag-oorwinning oor Australië
# En ‘n vragmotor-kajuit word in ‘n pyp gevind weke nadat dit in Japan in ‘n sinkgat geval het
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê sy party, die DA, is daartoe verbind om korrupsie en wanbestuur binne die regering van nasionale eenheid te beveg. Hy het in die debat oor die staatsrede beduidende vordering in sy departement uitgelig, wat in die verlede deur ondoeltreffendheid, verwaarlosing en korrupsie geteister is. Macpherson sê ‘n sleutelbesluit was om eiendomme in staatsbesit beskikbaar te stel vir herontwikkeling, om insette van die openbare sowel as die privaat sektor te kan lok:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie eis ‘n onmiddellike verbod op skadelike plaagdoders, veral Terbufos, ná berigte van voedselbesmetting en ernstige gesondheidsgevare. Dit volg nadat meer as 20 kinders verlede jaar gesterf het in voorvalle wat gekoppel word aan Terbufos. Wisani Baloyi van die kommissie sê die Parlement se portefeuljekomitee oor Landbou het ingestem om stappe te doen en stel voor daar word ‘n taakspan gevorm om binne ses maande ondersoek in te stel na alternatiewe vir Terbufos:
# Die 38ste beraad van die Afrika-unie het in Addis Abeba, Ethiopië, begin. Leiers van di e55 lidlande sal kwessies oor konflikte regoor Afrika bespreek asook om die afhanklikheid van buitelandse hulp te verminder. Dit volg op die besnoeiing van Amerikaanse befondsing en sy onttrekking uit die Wêreldgesondheidsorganisasie. Daarbenewens word ‘n nuwe AU-voorsitter ook verkies, met Raila Odinga van Kenia, Mahmoud Ali Youssouf van Djiboeti en Richard Randriamandrato van Madagaskar die voorste aanspraakmakers.
# Krieket: Sri Lanka het op indrukwekkende wyse teen die wêreldkampioen, Australië, teruggeveg om die eerste eendagwedstryd met 49 lopies te beklink, na ‘n honderdtal deur kaptein, Charith Asalanka. Sri Lanka moes ‘n beskeie teiken van 215 verdedig en het die besoekers binne 34 boulbeurte vir 165 uitgeboul om met 1-0 voor te loop in die reeks van twee wedstryde. Asalanka se 127 is die beste van sy loopbaan. Hy het ook die belangrike paaltjie van Alex Carey ingepalm terwyl Maheesh Theekshana vier paaltjies vir 40 lopies platgetrek het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-900-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-894-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Die stuurkajuit van ‘n vragmotor wat twee weke gelede in ‘n sinkgat naby Tokio in Japan beland het, is in ‘n nabygeleë rioolpyp opgespoor. Owerhede sê dit is onduidelik of die liggaam wat in die kajuit gevind is dié van die bestuurder is, wat vermis word. Die sinkgat is vermoedelik deur ‘n stukkende rioolpyp veroorsaak. Reddingswerkers kan nie in die pyp ingaan nie weens die voortdurende vloei van water en die hoë vlakke van rioolgas. Sinkgate word al meer algemeen in Japannese stede weens die verouderde rioolpypleiding-infrastruktuur
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….