Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp opposisie-aansprake oor die ineenstorting van die regering van nasionale eenheid
# Die MK-party verdedig Zuma se nalatenskap en beklemtoon vordering tydens sy ampstermyn
# En rugby: Die Bokke pak Argentinië op Twickenham in die laaste Rugbykampioenskapswedstryd
# Die ANC verdedig sy beleid op die sterkste moontlike manier en verwerp aansprake van die opposisie dat die regering van nasionale eenheid op die punt staan om in duie te stort. Die ANC se hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, het tydens die debat oor die staatsrede beklemtoon die ANC, as die leier van die nasionale demokratiese revolusie, het ‘n verpligting om sy beginsels te handhaaf en sy beleid teenoor sy teenstanders te verdedig:
Die MK-party verdedig intussen oudpresident Jacob Zuma en beskryf hom as Suid-Afrika se suksesvolste president. Die party se adjunkpresident, John Hlophe, het Zuma tydens die debat oor die staatsrede geloof vir sy belegging in onderwys, die verhoogde lewensverwagting en die verskaffing van anti-retrovirale middels om MIV/VIGS te beveg. Hlophe kritiseer president Cyril Ramaphosa se regering van nasionale eenheid omdat hulle nie beloftes nakom nie:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, het die vordering uiteengesit wat gemaak is met die ses sleutelprioriteite vir die verbetering van dienslewering. Sy het vroeër vandag ook ‘n opdatering gegee oor haar eerste 100 dae in die amp. Moya sê hierdie fokusareas is daarop gemik om Tshwane ‘n wêreldstandaard-hoofstad te maak. Sy het ook pogings uiteengesit wat aangewend word om die regering nader aan gemeenskappe te bring:
# Die DA in die Wes-Kaap veroordeel polisielede wat by dade van verkragting en seksuele wangedrag betrek word. Dit volg ná ‘n verslag deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat waarin onthul is daar was in die 2023/’24-boekjaar 110 beweerde verkragtingsvoorvalle waarby beamptes betrokke was. Die provinsie het 19 van hierdie gevalle aangeteken, teenoor nege die vorige jaar. Die DA-lid, Thomas Walters vra versterkte aanspreeklikheid om vertroue in die polisie te herbou.
# Rugby: Die Springbokke se veldtog in vanjaar se Rugbykampioenskap eindig op 4 Oktober teen Argentinië op Twickenham in Londen. Dit sal die spanne se eerste wedstryd op ‘n neutrale veld wees in die suidelike halfrond se grootste kompetisie. Los Pumas sal die wêreldkampioen se derde oorsese teenstander in drie seisoene in die ikoniese stadion wees nadat hulle Nieu-Seeland in ‘n opwarmingswedstryd vir 2023 se Wêreldbekertoernooi 35-7 verslaan het en Wallis verlede seisoen 41-13. Die Bokke begin hulle seisoen op 5 Julie teen Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-897-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-899-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….