Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC herbevestig sy steun vir vredesendings in Afrika
# Die polisie in Indië stop megaster Ed Sheeran se straatoptrede
# En, krieket: ‘n Maklike oorwinning vir die Swartpette oor die Proteas in Pakistan
# Die ANC het sy verbintenis tot die ondersteuning van vredesendings in Afrika bevestig. Die Nasionale Vergadering hou ‘n dringende debat oor die dood van 14 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo. Malusi Gigaba van die ANC het in sy toespraak erkenning gegee aan die opofferings wat Afrika-lande gemaak het om Suid-Afrika se vryheid te ondersteun en hul toewyding tot gesamentlike optrede in die oplossing van konflik herhaal:
Die DA het die Weermag gekritiseer en is van mening die soldate is onvoorbereid vir die toenemende konflik in die DRK. Die party sê die soldate is in die gebied ontplooi sonder genoeg toerusting en befondsing. Die DA-lid, Chris Hattingh het aangevoer die Weermag is nie genoegsaam toegerus om die M23-rebelle te hanteer nie:
# Die pop-megaster Ed Sheeran het ontken dat sy vertoning in Indië onwettig was, nadat die polisie gesê het hy het nie die nodige toestemming verkry om ‘n straatopvoering te hou nie en die vertoning skielik beëindig het. Die Britse sanger en liedjieskrywer en viermalige Grammy-wenner toer in die wêreld se mees bevolkte land, maar het gister tussen konserte die tyd geneem om ‘n verbaasde skare in die tegnologie-sentrum, Bengaluru, te vermaak. Video’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe ‘n polisiebeampte halfpad deur ‘n weergawe van sy treffer “Shape of You” sy mikrofoon ontkoppel.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse aanvangskolwer Matthew Breetzke se rekord vir ‘n eendag-internasionale buiging was tevergeefs en Nieu-Seeland het ʼn gerieflike oorwinning met ses paaltjies behaal in die driehoekige toernooi in Pakistan. Breetzke se 150 het die Proteas tot 304 vir ses gevoer. Kane Williamson se onoorwonne 133 en Devon Conway se 97 het die Swartpette egter gehelp om die teiken te haal met vier paaltjies plat en agt balle oor. Nieu-Seeland het Pakistan ook Saterdag in die openingswedstryd geklop. Suid-Afrika en die gashere meet Woensdag kragte, gevolg deur die eindstryd Vrydag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-693-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-901-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: Cosatu sê Suid-Afrika skuld dit aan die dapper opofferings van die Namibiese mense onder leiding van oudpresident Sam Nujoma om die bande tussen die twee lande op alle vlakke te verdiep en te versterk. Nujoma is Saterdag in die ouderdom van 95 oorlede. Zanele Sabela van Cosatu sê Nujoma het tydens sy eerste ampstermyn van 1990 tot ’95 soos oudpresident Nelson Mandela gefokus op versoening en nasiebou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….