Nuus 18:00
BULLETIN 30 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# March and March lê streng eise voor oor immigrasie by Konstitusieheuwel
# Die hoof van die KZN Valke, Lesetja Senona, bedank met onmiddellike ingang
# En, Cosatu vra vir sterker finansiële beheermaatreëls, nadat Gauteng Onderwys 41 beweerde korrupsiegevalle in skole ontdek
# March and March het belowe om voort te gaan met betogings teen ongedokumenteerde migrante. Die groep teen onwettige migrasie het tydens die oorhandiging van ‘n memorandum by Konstitusieheuwel in Johannesburg aangedring op strenger grensbeheer, massadeportasies, strenger visumbeheer en swaarder strawwe vir diegene wat ongedokumenteerde migrante in diens neem of huisves. Intussen het die leier van die groep, Jacinta Ngobese-Zuma, aan betogers in Durban, KwaZulu-Natal, gesê onwettige immigrasie plaas openbare dienste onder druk, wat bydra tot werkloosheid en toenemende misdaad:
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het met onmiddellike ingang bedank te midde van voortdurende ondersoeke wat verband hou met getuienis voor die Madlanga-kommissie van ondersoek na beweerde korrupsie en inmenging binne die strafregstelsel. Senona het tydens die kommissie vrae gekry oor sy beweerde bande met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en ander bewerings. Hy hou vol hy is onskuldig. Hy het die Valke sedert 2020 gelei, en sy vertrek laat die provinsie sonder ‘n permanente provinsiale hoof.
Intussen sê die regspan van geskorste adjunkmisdaadintelligensiehoof, Feroz Khan, hy het herhaaldelik kommer uitgespreek in beëdigde verklarings en tydens konsultasies voor sy beplande verskyning by die Madlanga-kommissie, oor sy persoonlike veiligheid. Dit volg nadat Khan Sondagaand in Houghton in ‘n doelgerigte lokval geskiet is. Volgens sy prokureurs is die kommer in hofstukke en ook kommissie-verwante voorbereidings gedokumenteer, wat waarskuwings beklemtoon wat voor die aanval gemaak is. Khan is steeds in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal terwyl die ondersoek voortduur.
# Die vakbondfederasie Cosatu in Gauteng het die provinsiale Onderwysdepartement gevra om sterker finansiële beheermaatreëls en beheerstelsels in skole te implementeer om toekomstige misbruik te voorkom. Dit volg nadat die departement minstens 41 gevalle van beweerde korrupsie, wanadministrasie en bedrog by verskeie skole regoor die provinsie blootgelê het. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, sê die misdadidge gedrag van ‘n paar individue mag nie die reputasie skaad van duisende eerlike staatsamptenare wat onvermoeid werk om ‘n beter onderwysstelsel te bou nie:
# Sokker: Die voorspeler van die Demokratiese Republiek die Kongo, Yoane Wissa, sê hulle kan nie wag vir hulle Wêreldbeker-ronde van 32-kragmeting môre met Engeland nie. Die Luiperds het deur 13 kwalifiserende wedstryde, ‘n kwarantyn-tydperk weens ‘n Ebola-uitbreking en die onbestendigheid in hulle land oorkom. Die DRK neem die eerste keer in 52 jaar aan die toernooi deel. Wissa sê hulle het die uitspeelronde op meriete gehaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-661-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….