Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek Ramaphosa om minister Nzimande af te dank weens die N-S-FAS-skandaal
# Beurtkrag sal oorskakel na fase 1
# En, sokker: 40%-verhoging in prysgeld vir Afcon
# Die DA versoek president Cyril Ramaphosa om die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, af te dank in die lig van die skandaal rondom die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Dit volg nadat die Organisasie teen Belastingmisbruik stemopnames vrygestel het wat lig werp op ‘n stelsel van begunstiging wat geld in ʼn ander rigting stuur en die raadsvoorsitter van NSFAS, Ernest Khoza, impliseer. Die party eis die onmiddellike skorsing van Khoza te midde van beskuldigings van gunslone. ʼn Woordvoerder van die DA, Chantel King, onderneem om tenderooreenkomste te ondersoek en eis spoedige optrede en verantwoordbaarheid:
# Eskom sê fase drie-beurtkrag duur tot om 5-uur môreoggend. Dit word gevolg deur fase een tot 4-uur die middag. Daarna sal fase twee geld vanaf 4-uur tot Sondagoggend 5-uur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê ʼn tydelike opskorting word beplan vir Sondag vanaf 5-uur die oggend tot 4-uur die middag. Sy sê ʼn vooruitskouing sal Sondag vir volgende week gegee word, met onmiddellike kommunikasie oor belangrike wysigings:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu het aan die Parlement onthul Sassa het sedert 2021 verkeerdelik meer as 141-miljoen-rand uitbetaal aan gestorwe bevoordeeldes van maatskaplike toelae. Sy het die Nasionale Vergadering ingelig die agentskap het maatreëls ingestel om die rekeninge van gestorwe bevoordeeldes te bevries om nog onttrekkings te voorkom. Zulu sê briewe is ook aan die naasbestaandes gestuur, om te vra vir die terugbetaling van die uitbetaalde geld.
# Sokker: Die wenner van die Afrikabekertoernooi in die Ivoorkus sal beloon word met ‘n yslike 131-miljoen-rand. Dit is ‘n verhoging van 40-persent sedert die vorige toernooi. Die vasteland se beheerliggaam, CAF, het aangekondig die naaswenners sal 75-miljoen-rand kry. Die spanne in die halfeindronde kry elk 47-miljoen-rand en dié in die kwarteindronde 24,4-miljoen-rand. Die president van die liggaam, Patrice Motsepe, glo ‘n deel van die prysgeld sal bydra tot die ontwikkeling van die spel. Die toernooi word van volgende Saterdag tot 11 Februarie gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-808-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-43-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-72-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Oscar Pistorius se vrylating uit die gevangenis is groot nuus regoor die wêreld. Die voormalige Paralimpiese kampioen het vroeg in 2013 in onguns verval nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, vermoor het – slegs enkele maande nadat hy as ʼn inspirasie beskryf is toe hy die vorige jaar in Londen as ʼn dubbele geamputeerde aan die Olimpiese Spele deelgeneem het. Pistorius sal in die huis van sy oom, Arnold, in Pretoria tuisgaan. Steenkamp se ma, June, het na sy vrylating gesê sy is die een wat ʼn lewensvonnis uitdien na die moord op haar kind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….