Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof verwerp Jacob Zuma se appèlaansoek om voort te gaan met sy private vervolging van Ramaphosa
# China veg terug deur heffings op Amerikaanse goedere in te stel
# En ‘n tweemalige Wimbledon-kampioen keer na 15 maande terug na mededingende tennis
# Die Konstitusionele Hof het oudpresident Jacob Zuma appèl geweier om voort te gaan met sy private vervolging van president Cyril Ramaphosa. Zuma beskuldig Ramaphosa daarvan dat hy medepligtig was in ‘n beweerde misdaad, na die uitlek van ‘n dokument oor sy gesondheid in sy korrupsieverhoor oor die wapentransaksie. Die hof het volgens TimesLIVE bevind daar is geen redelike vooruitsigte vir sukses in Zuma se aansoek nie en sy laat indiening van verlof tot appèl is nie geregverdig nie.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag dring aan op die onmiddellike repatriasie van die liggame van 14 soldate wat in skermutselings met M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo omgekom het. Minister Angie Motshekga, haar adjunk, Bantu Holomisa, en die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, het die Parlement ingelig oor die veiligheidsituasie in die ooste van die DRK. Weermag-woordvoerder Godfrey Thulare sê die regering werk saam met die Verenigde Nasies om die liggame van die oorledenes en die beseerde soldate veilig terug te bring:
# Die Sentrum vir Risiko-ontleding waarsku Suid-Afrikaanse amptenare wat die land se beleid oor Iran, China, Rusland en Israel bestuur, kan Amerikaanse sanksies ontlok. Amptenare wat regstreeks verbind word met kwessies soos korrupsie loop veral gevaar. Volgens die organisasie verhoog Suid-Afrika se hernude regsoptrede teen Israel die waarskynlikheid van moontlike sanksies. Woordvoerder Chris Hattingh sê Washington kan sanksies oplê wat sy ontevredenheid weerspieël met die regering se standpunte oor buitelandse beleid:
China gaan intussen tariewe hef op die invoere van Amerikaanse energie, voertuie en toerusting te midde van die verergerende handelsoorlog tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Saterdag ‘n bykomende tarief van 10-persent op Chinese goedere aangekondig, bo die tariewe wat reeds ingestel is. Minute nadat dit in werking getree het, het Beijing heffings van 15-persent op die invoere van steenkool en vloeibare aardgas uit Amerika ingestel, met heffings van 10-persent wat van krag is op ruolie, landboumasjinerie, voertuie met groot enjins en bakkies.
# Tennis: Die tweemalige Wimbledon-kampioen, Petra Kvitova, het bekendgemaak sy keer dié maand terug na mededingende tennis nadat sy 15 maande lank afwesig was weens die geboorte van haar seun. Die 34-jarige Tsjeg sê sy het die spel baie gemis en sien daarna uit om terug te wees. Die voormalige wêreld-nommer-twee het Wimbledon in 2011 en 2014 ingepalm, asook 31 WTA-enkelspeltitels – die laaste daarvan in Berlyn in 2023. Kvitova beplan om haar terugkeer te maak op die Texas Ope in Amerika, wat die 24ste begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-925-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-838-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….