Nuus 18:00
BULLETIN 3 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Donald Trump se dreigement ondermyn Suid-Afrika se soewereiniteit
# Maatskaplike Ontwikkeling gaan appél aanteken teen ‘n hofbeslissing oor die Covid-19 toelae
# En krieket: Die Engelse vrouespan se vertoning word hersien ná die 16de agtereenvolgende nederlaag teen Australië
# Die EFF het die Amerikaanse president, Donald Trump, se dreigement veroordeel om buitelandse befondsing vir Suid-Afrika te staak oor die grondonteieningsbeleid. Partyleier Julius Malema sê Trump se uitlating ondermyn Suid-Afrika se soewereiniteit en waarsku dat geen dreigemente die regering sal afskrik nie. Hy beklemtoon dat die wet beoog om die afhanklikheid van buitelandse steun te verminder terwyl dit geskiedkundige onregte uit die weg ruim:
Intussen het die vakbond Solidariteit Amerika gevra om druk op die ANC te plaas oor sy skadelike beleide, sonder om kwesbare Suid-Afrikaners te straf. Flip Buys van Solidariteit sê finansiële sanksies soos om Suid-Afrika af te sny van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, sal werkloosheid en armoede vererger:
# Die Department van Maatskaplike Ontwikkeling sê hulle gaan appél aanteken teen die beslissing van die Hooggeregshof in Pretoria in verband met die Covid-19 maatskaplike hulpverleningstoelaag. Die hof het verlede maand beslis dat die regering die toelaag moet verleng vir individue wat uitgesluit is omdat hulle nie gedurende ‘n spesifieke tyd aansoek gedoen het nie. Lumka Oliphant van die departement het gevra vir geduld terwyl hulle werk aan ‘n oplossing wat in ooreenstemming is met die beginsels van geregtigheid en die Grondwet:
# Die president van Botswana, Duma Boko, het onthul wat die planne is om die diamant-afhanklike ekonomie uit te brei. Sy fokus is op werkskepping, die ontwikkeling van nuwe nywerhede, die ontbinding van die staat se kragvoorsiener en die bevordering van inskiklike lenings. Tagtig-persent van die ekonomie bestaan uit diamante, dus worstel die land met ‘n hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug. Die president sê die doel is om hernubare energie, landbou en digitale nywerhede voorop te stel, sowel as om mineraalverwerking en natuurlewe-toerisme te verbeter.
# Krieket: Die Engelse en Walliese Krieketraad het ‘n hersiening beloof nadat Engeland se vroue hul 16de agtereenvolgende wedstryd teen Australië in die reeks om die As verloor het. Australië het die eenmalige toets teen die besoekers in Melbourne met ‘n beurt en 122 lopies gewen en ook in die T20’s en die eendagreeks skoonskip gemaak. Engeland kon sedert 2014 nog nie die As wen nie. Die adjunk-uitvoerende hoof, Clare Conner, ontken dat die span nie professioneel is nie. Sy sê wanneer ‘n span onderpresteer, sal alles bespreek word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-624-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-814-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….