Nuus 18:00
BULLETIN 31 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa bevestig fase 3-beurtkrag as gevolg van beplande instandhouding
# Die EFF is gereed vir 2026 se plaaslike regeringsverkiesing
# En sokker: Real Madrid en Manchester City speel weer teen mekaar in die uitspeelronde van die Kampioeneliga
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het bevestig dat fase 3-beurtkrag vir die res van die naweek toegepas sal word weens beplande instandhouding en onbeplande onderbrekings. Hy het aan die media gesê Eskom gee voorkeur aan die bestendigheid van die netwerk en vul reserwes aan om verdere ontwrigtings te voorkom. Ten spyte van die terugslag, hou Ramokgopa vol dat vordering gemaak word met die vermindering van beurtkrag, met bykomende opwekkingsvermoë wat na verwagting in die komende maande sal terugkeer:
# Die EFF se leier, Julius Malema, sê die party is gereed vir ‘n oorwinning in 2026 se plaaslike regeringsverkiesing. Hy het tydens die derde Nasionale Volksvergadering by Nasrec in Johannesburg, lede aangemoedig om voorkeur te gee aan onbaatsugtigheid, met die klem op 2025 as die jaar van stakings om Suid-Afrikaners te bevry. Malema waarsku teen faksies en het herboupogings beklemtoon om sukses te verseker in die komende verkiesing:
# Ouers in die Strand in Kaapstad het Solomon Qatyana Primary gesluit. Hulle eis dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ‘n permanente struktuur bou soos daar na bewering beloof is. Die skool bestaan sedert 2005 slegs uit mobiele klaskamers, wat volgens die ouers oorvol is met swak ventilasie. Bronagh Hammond van die departement ontken die verbintenis om ‘n nuwe skool te bou, maar sê die departement is bereid om die saak te bespreek:
# Uganda het ‘n uitbreking van die Ebola-virus in Kampala bevestig na die dood van ‘n verpleegkundige van die Mulago-nasionale verwysingshospitaal. Die ministerie van Gesondheid sê sy is dood aan veelvuldige orgaanversaking nadat sy vir behandeling aangemeld het. Minstens 44 mense, insluitend 30 gesondheidswerkers, word opgespoor om die uitbreking te beperk. ‘n Inentingsveldtog sal onmiddellik begin vir mense wat in aanraking met die slagoffer was. Gesondheidsowerhede het die publiek gevra om vermeende gevalle aan te meld terwyl hulle spook om die toestand te bestuur.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Real Madrid, speel teen 2023 se wenner, Manchester City, in die uitspeelronde van die Kampioeneliga. Dis die vierde jaar in ‘n ry dat die twee teen mekaar geloot word in ‘n uitklopstryd. Real het verlede seisoen hulle kwarteindstryd met strafdoele gewen. Die Skotse kampioen Celtic speel teen die sesmalige Europese kampioen, Bayern Munchen. Celtic is die eerste keer in 12-jaar in die uitklopronde. Hy het in 2017/18 laas in die groepfase teen Bayern gespeel en tuis en weg verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-593-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-807-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….