Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geweld in die DRK neem toe terwyl betogers ambassades in Kinshasa aanval
# Sokker: Neymar sal moontlik na Brasilië terugkeer na die beëindiging van sy kontrak met Al-Hilal
# En Valentyns-teddiebeertjies sal liefde en ondersteuning vir kankervegtertjies bied
# Betogers wat die internasionale gebrek aan optrede rondom die krisis in die Demokratiese Republiek die Kongo kritiseer, het die ambassades van Rwanda, Frankryk, België en die Verenigde State in Kinshasa aangeval. Geweerskote het ook in dele van die stad Goma geklap, waar Kongolese soldate gebots het met burgermagvegters wat deur Rwandese soldate gesteun word. Die hoofstad van die oostelike DRK het ‘n slagveld geword vandat vegters van die Tutsi-geleide M23-gewapende groep en Rwandese magte Sondagaand sentraal-Goma binnegedring het ná weke se gevegte in die streek.
Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het die regering se verwaarlosing van die Departement van Verdediging intussen gekritiseer nadat 13 Weermag-soldate gesterf het in botsings met M23-rebelle in die DRK. Die soldate het gedien onder die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sending in die DRK en die Verenigde Nasies se Stabiliseringsending. SKOOR se voorsitter, Songezo Zibi, het die onrusbarende gevolge van onvoldoende ondersteuning in aktiewe konfliksones uitgelig:
# Die DA open Saterdag die amptelike aansoeke vir raadslidkandidate in die komende plaaslike regeringsverkiesing. Die party wil vaardige, toegewyde individue hê wat die party se waardes deel en op die verbetering van plaaslike gemeenskappe sal fokus. Dit volg op nuwe regulasies om aandag te gee aan dorpe wat met wanbestuur worstel. Die DA se federale raadsvoorsitter, Helen Zille, het op ‘n nuuskonferensie gesê die party het ook ‘n katalisator-program van stapel gestuur en sy deelnemers is in September verlede jaar gekies en genooi:
# Sokker: Die Brasiliaan Neymar sal waarskynlik terugkeer na die plaaslike span waar sy sprankelende loopbaan begin het. Dit volg nadat sy kontrak met Al-Hilal in Saudi-Arabië met wedersydse ineenstemming beëindig is. Die 32-jarige het in Augustus 2023 van die Franse klub Paris Saint-Germain by Al-Hilal aangesluit, maar sy verblyf is belemmer deur beserings en hy het slegs sewe wedstryde vir Al-Hilal gespeel. Neymar word gekoppel aan ‘n skuif na Santos, wat hy tussen 2009 en 2013 verteenwoordig het voordat hy naam gemaak het by die Spaanse topspan Barcelona.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-33-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die organisasie Cupcakes of Hope het Valentyns-teddiebeertjies bekendgestel om liefde en ondersteuning aan kankerpasiënte te bied. Elke beer, wat met hartvormige koekies uitgedeel word, het ten doel om die nie-winsgewende organisasie te help befonds om verligting aan kankervegters te bied. Die 15de Februarie is Internasionale Kinderkanker-bewusmakingsdag, en die beertjies sal teen 1 Februarie uitgestuur word, net betyds vir Valentynsdag. Cupcakes of Hope het reeds meer as 10-duisend gesinne bygestaan wat ‘n stryd teen kanker voer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….