Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bekragtig die Wetsontwerp op Onteiening
# Die Amerikaanse kunstenaar Chris Brown dagvaar Warner Brothers vir nege-miljard-rand oor bewerings in ‘n dokumentêr
# En, krieket: Indië se groot name misluk in hulle gedwonge terugkeer na plaaslike krieket
# President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Onteiening onderteken, wat die Onteieningswet van 1975 vervang. Die wetgewing is onderwerp aan vyf jaar se openbare raadpleging, en verseker onteiening is nie lukraak nie. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê ingevolge die wet moet owerhede met eiendomseienaars onderhandel en bemiddeling of howe gebruik om geskille op te los. Hy sê die wet het ten doel om inklusiwiteit en billike toegang tot hulpbronne te bevorder:
# Noordwes se polisie ondersoek van hulle eie lede wat vermoedelik gehelp het met die ontsnapping van ‘n vermeende baasbrein van onwettige mynbou in Stilfontein. James Tshoaeli, bekend as Tiger, het verdwyn kort na sy inhegtenisneming. Hy is aangekeer nadat hy en ander onwettige mynwerkers uit ‘n skag te voorskyn gekom het na ‘n langdurige tweestryd met die polisie. Waarnemende provinsiale kommissaris, Patrick Asaneng, sê Tshoaeli is nooit by ‘n stasie aangemeld of in ‘n hospitaal opgeneem nie. Hy sê hulle duld nie korrupte lede nie.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik versoek Eskom om eenvoudige, billike en bekostigbare elektrisiteitstariewe vir huishoudings in te stel. Hulle is besorg oor die nutsmaatskappy se voorgestelde tariefverhogings van 36-persent vir 2025/’26, insluitend hoër vaste heffings en verpligte tyd-van-gebruik-tariewe vir sonkraggebruikers. Die energiereguleerder, Nersa, sal sy besluit oor die tariefplan na verwagting teen die einde van die maand bekend maak. OUTA se woordvoerder, Stephanie Fick, sê hierdie veranderings sal verbruikers benadeel en die gebruik van skoon energie ontmoedig:
# Chris Brown het Warner Brothers vir nege-miljard-rand gedagvaar na die uitreiking van ‘n dokumentêr oor sy beweerde seksuele aanranding en ander beskuldigings. Die rolprent “Chris Brown: A History of Violence” bevat bewerings van gesinsgeweld, aanranding en seksuele wangedrag teen die 35-jarige Amerikaanse R&B-sanger en kletsrymer. Sy reputasie is geskaad weens bewerings van gesinsgeweld en ander mishandeling. Brown is skuldig bevind dat hy sy destydse meisie, Rihanna, aangerand het voor die Grammy-toekennings in 2009, wat die popster verplig het om die geleentheid mis te loop.
# Krieket: Sommige van Indië se grootste name het misluk met hulle terugkeer na plaaslike krieket nadat die land se nasionale raad hulle opdrag gegee het om in plaaslike kompetisies te speel. Indië se nederlaag in die toetsreeks teen Australië vroeër die maand het die land se beheerraad genoop om nuwe riglyne vas te stel om dissipline in die senior mans-spel te bevorder. Die kolwers Rohit Sharma, Shubman Gill, Yashasvi Jaiswal en Rishabh Pant kon nie een dubbelsyfers haal vir hulle plaaslike spanne nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-85-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-743-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….