Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Getuie in ‘n moordsaak word voor die hof in Lenasia doodgeskiet
# Tennis: Novak Djokovic verras Carlos Alcaraz om sy 50ste Grand Slam-halfeindstryd te haal
# En die NSRI raai strandgangers aan om kontak met robbe te vermy in Kaapstadse waters
# Die polisie is op soek na twee verdagtes wat vandag ‘n 27-jarige man voor die Landdroshof in Lenasia. Gauteng. doodgeskiet het. Die slagoffer, ‘n getuie in ‘n moordverhoor, is genader en sonder enige waarskuwing geskiet. Een persoon is gewond. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om hul naaste polisiestasie te kontak:
# Die DA sê die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, ignoreer die feit dat daar duisende werklose dokters en aptekers is. Hulle beskuldig hom dat hy fokus op die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, maar intussen die tekort aan mediese personeel in openbare hospitale verwaarloos. Die DA-lid Michele Clarke waarsku die NGV vererger die situasie, veral in gebiede soos die Oos-Kaap, waar klinieke moet sluit weens die gebrek aan personeel:
# Mining Affected Communities United in Action is diep besorg oor die behandeling van mynwerkers wat by Stilfontein in Noordwes gered is. MACUA wys op die ontoereikende hantering van die mynwerkers se gesondheid en regte. Die organisasie noem misleidende verslae oor hospitaal-opnames, asook die haglike gesondheidstoestande van aangehoue mynwerkers, onmenslike behandeling onder polisietoesig en ‘n patroon van viktimisering en vergelding. MACUA vra onmiddellike aanspreeklikheid en die instelling van ‘n omvattende kommissie van ondersoek na hierdie menseregteskendings.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, het die jong Spanjaard Carlos Alcaraz verras om die voorlaaste ronde van die Australiese Ope te bereik. Die tienmalige kampioen het die eerste stel 4-6 aan die wêreld-nommer-drie afgestaan, maar daarna algaande beheer oor die wedstryd geneem. Die 37-jarige Serwiër het die volgende drie stelle 6-4, 6-3, 6-4 ingepalm om sy 50ste Grand Slam-halfeindstryd te haal. Djokovic speel volgende teen die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev van Duitsland, wat die Amerikaner Tommy Paul in vier stelle geklop het in hulle kwarteindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-611-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut versoek strandgangers om alle ongewone gedrag deur robbe in Kaapstad onmiddelik aan te meld. Dit volg ná ‘n onlangse voorval tussen duikers en ‘n rob op die Windmeul-strand in Simonstad in Valsbaai. Die instituut se woordvoerder, Andrew Ingram, vra swemmers, duikers en strandgangers om bedag te wees op tekens van aggressie, disoriëntering of siektes, veral as hondsdolheid vermoed word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….