Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder ondersoek die beweerde uitlek van matriekuitslae
# ‘n Noorweegse vrou word die jongste persoon wat die Suidpool bereik op ski’s, alleen en sonder hulp
# En, tennis: Rybakina, Raducanu, Paolini almal deur na die tweede ronde by die Australiese Ope
# Die Inligtingsreguleerder het aan die Departement van Basiese Onderwys geskryf om meer besonderhede aan te vra oor die beweerde vroeë bekendmaking van die 2024-matriekuitslae. ‘n Johannesburg maatskappy, Edumarks, het glo 100-rand gevra om uitslae vroeër te verskaf. Die departement bevestig ‘n moontlike oortreding, maar gee die versekering dit beïnvloed nie die integriteit van die uitslae nie. ’n Ondersoek is begin waarby Staatsveiligheid en die Valke betrokke is en die reguleerder het meer inligting van die departement aangevra indien die data moontlik uitgelek het.
# Die Congress of The People in Gauteng sê hy is bekommerd oor die provinsiale Onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel, veral die uitwerking op gemeenskappe en ouers. ‘n Partywoordvoerder, Tom Mofokeng, sê die aanlynstelsel het nie die mense doeltreffend gedien nie, veral nie ouers en leerders in townships, landelike gebiede en informele nedersettings nie:
# ‘n Een-en-twintig-jarige Noorweegse vrou het die jongste persoon geword wat die Suidpool bereik het op ski’s, alleen en sonder bystand. Karen Kylleso, wat 1,52-meter lank is en slegs 48 kilogram weeg, het die een-duisend-130 kilometer in net minder as 54 dae afgelê terwyl sy ‘n slee wat twee keer haar gewig is, getrek het. Sy onttroon Pierre Hedan van Frankryk op die Guinness World Records nadat hy in Januarie verlede jaar die rekord gestel het op die ouderdom van 26.
# Tennis: Die voormalige Wimbledon-kampioen Elena Rybakina het by die Australiese Ope met 6-1, 6-1 korte mette gemaak van die tiener, Emerson Jones. ‘n Verroeste Emma Raducanu het egter 15 dubbelfoute gemaak, maar het nietemin met 7-6, 7-6 in die eerste ronde afgereken met die Rus, Ekaterina Alexandrova. Die 29-jarige Italianer, Jasmine Paolini, is ook deur na die volgende ronde na ʼn bykans foutlose sege van 6-0, 6-4 oor die Chinese kwalifiseerder, Wei Sijia. Paolini is die wêreld nommer vier en het in 2024 die eerste Italiaanse vrou in die Ope-era geword wat by al vier Grand Slam-toernooie die laaste 16 gehaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-423-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-62-sent per vat.
# Die DA het Cape Town Pride gelukgewens met die World Pride-geleentheid wat in 2028 in Kaapstad sal plaasvind. Die DA-lid, Nicholas Gotsell, sê World Pride het begin in 2000 in Rome en word beskryf as ‘n geleentheid wat ten doel het om globale bewusmaking en sigbaarheid rondom LGBTQIA+ kwessies uit te lig. Hy sê dit behels ‘n menseregtekonferensie en verskeie buiteluggeleenthede om gelykheid en menseregte te vier:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….