Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onafhanklike Eksamenraad se matriekklas van 2024 behaal ‘n slaagsyfer van 98.47-persent
# Die DA versoek SA Toerisme moet onder administrasie geplaas word
# En, motorsport: Byna 1,2,3 vir Suid-Afrika in die 8ste skof van die Dakar-tydren
# Privaat en onafhanklike skole wat die eksamens van die Onafhanklike Eksamenraad geskryf het, het ‘n algehele slaagsyfer van 98,47-persent behaal, effens hoër as die 98,46-persent verlede jaar. Die Baccalaureus-slaagsyfers het tot 89,37-persent gestyg, vergeleke met 88,59-persent verlede jaar. Altesaam 16-duisend-304 kandidate van 275 sentrums het die eksamen afgelê. Honderd-nege-en-veertig kandidate was onder die top 5-persent van alle kandidate in ses of meer vakke en het ook ‘n onderskeiding in Lewensoriëntering behaal. Die raad se uitvoerende hoof, Confidence Dikgole, het leerders geprys vir hul veerkragtigheid en vasberadenheid te midde van die ontwrigtings van 2020.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie in Noordwes beskuldig die regering vir die vasgekeerde Stilfontein-mynwerkers se blootstelling aan onmenslike toestande. SANCO se woordvoerder, Mzukisi Jam, het die staat gekritiseer omdat hy wêreldwyd menseregte verkondig maar binnelandse kwessies word verwaarloos. Jam het op ‘n inligtingsessie met Mining Affected Communities United in Action, gesê sterftes kan vermy word en mynwerkers se reg om te lewe beklemtoon:
# Die DA het die minister van Toerisme, Patricia de Lille, gevra om SA Toerisme onder administrasie te plaas na onthullings dat hulle moontlik weens onderbesteding meer as 800-miljoen-rand van hulle begroting vir 2024/2025 moet verbeur. DA-woordvoerder oor Toerisme, Haseena Ismail, wys op die voortdurende onbestendigheid van die staatsonderneming weens onreëlmatige tenders, geskille in die raad en die onvermoë om toerisme doeltreffend te bevorder. Sy versoek optrede om aanspreeklikheid en funksionaliteit binne SA Toerisme te herstel:
# Motorsport: Henk Lategan van Suid-Afrika in sy Toyota is steeds voor onder die bestuurders van die Dakar-tydren nadat hy vandag die agste trajek ingepalm het. Dis die 30-jarige se vierde Dakar. Hy het sy voorsprong oor die plaaslike hoop, Yazeed al-Rajhi, tot 5-minute-41-sekondes in die algemene klassifisering vergroot. Ten spyte van ‘n boete van twee-minute vir spoed tydens die trajek, was Lategan voor landgenoot Guy Botterill, ook in ʼn Toyota. Frankryk se Mathieu Serradori in sy Century het verhinder dat net Suid-Afrikaners op die podium klim deur derde te eindig, vyf sekondes voor Brian Baragwanath.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-826-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-668-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: Boitumelo Media het die eerste Gemeenskapsradio-toekennings aangekondig wat op 25 April sal plaasvind. Hierdie toekennings vereer gemeenskapsradiostasies en plaaslike storievertellers wat sosiale geregtigheid en kulturele uitdrukking bevorder. Kategorieë sluit ondermeer in die beste gemeenskapsprogram en Ererol-induksies. Nominasies, met oudioprofiele en geskrewe motiverings, sluit op 28 Februarie. Stigter Motseki Mabuya beklemtoon die kritieke rol van gemeenskapsradio in die bevordering van dialoog en kulturele verbintenis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….