Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gauteng stel ‘n toepassing bekend vir privaat en kitstoegang tot matriekuitslae
# Die saak teen verdagtes in die kapingsaak wat met Nelson Mandela se kleinseun verbind word, is uitgestel
# En, tennis: Emma Raducanu weier om insekbyte te behandel by die Australiese Ope uit vrees vir opkikkertoetse
# Die 2024-matrieks sal privaat en gerieflik toegang tot hul uitslae kan kry met die nuwe Gautengse matriekuitslae-toepassing. Die provinsiale regering het die toepassing bekendgestel wat dit moontlik maak vir leerders om vanaf Maandag hul uitslae op hul toestelle te sien. Die Departement van e-Regering se woordvoerder, Neo Goba, sê die toepassing vorm deel van pogings om onderwys met tegnologie te transformeer, deursigtigheid en toeganklikheid te verseker en stres te verminder deur die beskerming van leerders se privaatheid:
# Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole sê skole waar skoolfonds betaal moet word ervaar aansienlike finansiële probleme omdat skoolfonds styg en druk op gesinne verhoog. Fedsas verwag onafhanklike skole sal na verwagting vrystelling van tussen 7,4-miljard-rand en 10,8-miljard-rand aan sukkelende ouers moet verleen. Riaan van der Bergh van Fedsas het aan eNCA gesê met skoolfondsverhogings wats hoёr as inflasie is, raai hy skole aan om aanpassings vir skoolfonds en skryfbehoefte-uitgawes deursigtig te kommunikeer:
# Die saak teen vier verdagtes in verband met ‘n gekaapte voertuig wat by die huis in Houghton van oudpresident Nelson Mandela in Johannesburg gevind is, is tot 17 Januarie uitgestel. ’n Vyfde persoon wat in hegtenis geneem is, Nelson Mandela se kleinseun, was nie vandag in die hof nie. Die hof het die media opdrag gegee om nie die verdagtes se name, geslag of ras te publiseer nie. Die gekaapte voertuig en ‘n ongelisensieerde vuurwapen is gevind. Hulle word aangekla van ontvoering, roof en aanranding.
# Nagenoeg 3,2 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf in die oorloggeteisterde Soedan sal na verwagting vanjaar akute wanvoeding in die gesig staar. Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds sal ongeveer 772-duisend van hierdie kinders waarskynlik aan ernstige akute wanvoeding ly. Tienduisende mense is dood in die oorlog van 20 maande tussen die Soedanese weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces. Volgens die Verenigde Nasies is 12-miljoen mense ontwortel in een van die wêreld se grootste ontheemdingskrisisse.
# Tennis: Emma Raducanu het bekendgemaak sy weier om ‘n antiseptiese spuitmiddel teen insekbyte te gebruik uit vrees dat sy voor die Australiese Ope ʼn dwelmtoets sou druip. Die 22-jarige Britse tennisster sê haar hand en enkel is geswel, maar sy weier behandeling ingeval besmetting ‘n positiewe opkikkertoets kan oplewer. Raducanu het voor die toernooi gesê spelers is almal skrikkerig oor wat hulle inneem en die moontlike uitwerking wat dit op ʼn dwelmtoets kan hê. Sy dink wel sy gaan ʼn gevaarlike teenstander vir enigiemand by die toernooi wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-304-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-684-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….