Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula vra Suid-Afrikaners om Ramaphosa die geleentheid te gee om voort te gaan om te lei
# Suid-Afrikaners het nie veel vertroue in die Onafhanklike Verkiesingskommissie nie
# En, krieket: Die Proteas boul Indië uit vir 153 lopies
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, moedig Suid-Afrikaners aan om vir die ANC te stem. Hy het aan die media gesê kiesers moet president Cyril Ramaphosa ‘n tweede kans gee om die land te lei. Twee voormalige presidente, Jacob Zuma en Thabo Mbeki, het vroeër onderneem om nie vanjaar in die verkiesing vir die ANC te stem nie. Volgens Mbalula moet voormalige leiers van die ANC nie Ramaphosa kritiseer nie want hy moes andere Covid-19, die opstande in Julie 2022 en staatskaping hanteer:
Die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing meld intussen kommerwekkende bevindings aan oor die openbare vertroue in die Onafhanklike Verkiesingskommissie. News24 berig die raad se navorsing dui op ‘n gebrek aan vertroue onder Suid-Afrikaners terwyl die OVK voorberei om vanjaar ‘n provinsiale en nasionale verkiesing te lei. Die studie onthul ‘n afname in kieserdeelname, met net 46-persent van geregistreerde kieser wat deelgeneem het aan die 2021-plaaslike regeringsverkiesing. Die afwaartse tendens laat kommer ontstaan oor dalende vertroue onder die publiek in demokratiese instellings, wat uitdagings en implikasies inhou vir die integriteit van toekomstige verkiesingsprosesse.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste handhaaf streng vertroulikheid oor die naderende vrylating op parool van die veroordeelde moordenaar, Oscar Pistorius, wat Vrydag in werking tree. Volgens die departement is dit weens sekerheidsredes. Die voormalige Paralimpiese atleet het sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013 by sy huis in Pretoria doodgeskiet. Die woordvoerder van die departement, sê die besluit beperk toegang van die media tot vervoerreëlings en die tyd van vrylating:
# Brittanje se elektrisiteitsopwekking uit fossielbrandstof het verlede jaar gedaal tot die laagste vlak in byna 70 jaar. ‘n Ontleding op die spesialiswebblad, Carbon Brief, toon steenkool, gas en olie het 104-terawatt-uur elektrisiteit opgewek, ‘n syfer wat laas in 1957 bereik is. Elektrisiteit uit fossielbrandstof het nou met twee-derdes gedaal sedert dit in 2008 ‘n hoogtepunt bereik het, veroorsaak deur ‘n oplewing in hernubares en ‘n swakker vraag na elektrisiteit. Fossielbrandstof was verlede jaar verantwoordelik vir omtrent ‘n derde van die Verenigde Koninkryk se elektrisiteitvoorraad, wat die laagste tot nog toe is.
# Krieket: ‘n Stortvloed paaltjies het gekantel op die eerste dag van die tweede en finale toets tussen Suid-Afrika en Indië op Nuweland in Kaapstad. Die Proteas het die loot gewen en eerste gekolf, en is vir net 55 uitgehaal nadat Mohammed Siraj ses paaltjies ingeoes het. Indië het goed begin, maar het ineengestort toe die laaste ses paaltjies gekantel het sonder dat ‘n lopie aangeteken is. Kagiso Rabada, Nandré Burger en Lungi Ngidi spog elk met drie paaltjies en Indië is uitgeboul vir 153, wat die besoekers ‘n voorsprong gee van 98 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-349-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….